Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Pacaltsdorp se geliefde Kersfees-tradisie, gelei deur oom Jannie Flores van Olympic-rylaan in Delvillepark, is die afgelope naweek 'n harde knou toegedien toe diewe sy pragtige Kersliggies aan sy staalheining afgeknip en gesteel het.
Hierdie hartelose daad het nie net 'n tradisie van meer as 20 jaar bederf nie, maar ook die vreugde en hoop wat dit vir 'n gemeenskap bring geskend.
Myrna Frantz, oom Jannie se dogter, het Saterdag 14 Desember in 'n Facebook-plasing gesê hulle is hartseer en kwaad.
"Dit is seer vir ons familie, die kinders en vir die tradisie wat Pacaltsdorp gaan verloor. Maar my hart breek in stukkies vir my pa, Jannie Flores. Dit was sy trots. My pa se hart is gebreek," skryf Myrna.
Vir twee dekades het oom Jannie, nou 74, met liefde sy huis met Kersliggies versier. Hy wou hê dat die mense van Pacaltsdorp, veral dié wat dit nie kan bekostig om na die dorp toe te ry nie, die warm gloed van Kersfees reg op hul drumpel moes ervaar. Die kinders van Syferfontein kamp uit op kombersies en lê vir ure in verwondering en staar na die liggies.
Hy het altyd gesê: "Hoekom moet Pacaltsdorp se mense dorp toe ry om die liggies te sien? Kom ek bring dit Pacaltsdorp toe."
Hierdie tradisie was nie net vir die visuele genot van Kersfees nie, maar het 'n dieper betekenis gedra. Na die Kersdag-kerkdienste het oom Jannie en sy familie gereeld kos en lekkernye aan minderbevoorregte gesinne en kinders van Syferfontein uitgedeel. Vir baie het hierdie gebaar van omgee hul Kersfees spesiaal gemaak.
Hy het vandeesweek gesê die diefstal het Vrydag- en Saterdagaand plaasgevind en is by die polisie aangemeld.
Saterdag het hy en sy seun, Julio, nog liggies op die staalpanele in die heining aangebring en is die liggies aangeskakel tot groot genot van inwoners. Die diewe het egter Saterdagaand teruggekeer en drie panele gestroop.
VIDEO:
Een van drie staalpanele wat kaal gestroop is.
Die Pacaltsdorp-gemeenskap is ontsteld oor hierdie sinnelose daad. Intussen het 'n inwoner, Nathleen Pieterse, twee sekuriteitskameras vir oom Jannie geskenk wat hy, sodra hy 'n digitale video-opnemer (DVO) kan aanskaf sal aanbring. Terwyl die huis, tuin en die huis se dak steeds met Kersliggies opgetooi is, sal die Kersliggies aan die heining vanjaar nie weer aanbring word nie. Inwoners is welkom om 'n draai te maak en die skouspel te aanskou.
Die huis, tuin en die huis se dak is steeds met Kersliggies opgetooi. Inwoners is welkom om 'n draai te maak en die skouspel te aanskou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’