GEORGE NUUS - Die plaaslike sakeman (42) wat skuldig bevind is op twee aanklagte van verkragting van sy biologiese dogter, word op 30 November in die George-streekhof gevonnis.
Hy het haar tussen 2012 (toe sy14 jaar oud was) en 2015 herhaaldelik verkrag, onder andere by sy huis en sy onderneming in die nywerheidsgebied, en staar lewenslange tronkstraf vir elk van die klagte in die gesig. Die slagoffer (toe 16 jaar) het eers haar ouma van die seksuele misbruik vertel.
Die volgende dag het sy die skool se maatskaplike werker vertel en daardie aand haar ma.
Die beskuldigde is kort daarna op 7 Mei 2015 deur lede van die gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe eenheid (GKS) by sy huis in hegtenis geneem. Hy is dieselfde maand borgtog geweier en is sedertdien in aanhouding in die George-tronk.
Twee aanklagte van verkragting
Tydens haar voorvonnisvertoë op Vrydag 17 November het staatsaanklaer, adv. Gerda Marx, gesê die twee aanklagte van verkragting spruit uit die feit dat die beskuldigde die slagoffer reeds herhaaldelik verkrag het toe sy minderjarig was, daarom is lewenslank daarop van toepassing. Die tweede klag van verkragting is omdat hy haar herhaaldelik verkrag het ná sy 16 was.
Lewenslank is dus hier ook van toepassing.
Die staat het ook as deel van die getuienis 'n DNS-verslag ingehandig wat die beskuldigde met die misdrywe verbind. Die beskuldigde het getuig dat die seksuele dade met sy dogter met haar toestemming plaasgevind het. Selfs op haar inisiatief. Streeklanddros JH Breyl het egter hierdie weergawe verwerp en bevind dat daar nie toestemming was toe hy die seksuele dade met sy dogter gepleeg het nie.
"Die landdros moet nou beslis of daar wesenlike en dwingende omstandighede aanwesig is om af te wyk van die minimum voorgeskrewe vonnis," het Marx aan die George Herald gesê.
Verdere klagte
Die pa is verder skuldig bevind aan aanranding met die opset om ernstig te beseer en twee aanklagte van kindermishandeling. Hy het sy vrou van 1999 tot 2015 aangerand en sy seun en dogter albei vir 'n lang tydperk mishandel.
Albei die kinders, hul ma, hul oumas en oupas, asook 'n sielkundige, Christie Els, het tydens die verhoor getuig. Volgens die slagoffer-impakverslag is die dogter erg getraumatiseer en word sy vir depressie behandel. Sy is bang vir ouer mans en wil nie alleen wees nie. Sy toon selfmoordneigings en sal nog vir baie lank behandeling moet kry. Sy neem haar pa kwalik dat hy haar van haar toekoms ontneem het. Sy en haar ma hoop vir lewenslange tronkstraf.
Klik hier vir vorige artikels:
- Pa wat glo verkrag weer later in hof
- Pa wat glo verkrag weer in hof
- Pa wat vriendinne glo verkrag Maandag in hof
- Man vas vir pornografie in hofselle aangerand
- Opvolg: Man vas vir kinderpornografie
- Child porn scandal hits George
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'