Update
GEORGE NUUS - Wayne Robertson, streeksekretaris van die Patriotiese Alliansie (PA), het gereageer op hulle kandidaat, Rita Gregory se oorwinning in Wyk 20 se tussenverkiesing Woensdag, asook bewerings dat die party die dag voor die verkiesing kospakkies in die wyk uitgedeel het.
Robertson het nie direk op die bewerings geantwoord nie, maar gesê ondanks "persoonlike aanvalle" vanuit die DA-geledere en ander uitdagings gedurende die veldtog, "het die leiers van die PA George steeds sterk bly staan".
"Dit is 'n bewys van ons leiers en die gemeenskap van Borcherds se intelligensie en integriteit; hulle het deur die leuens en leë retoriek van die DA gesien en het hulself by ons geskaar, en dit sal ons nooit as vanselfsprekend aanvaar nie.
"As die Patriotic Alliance is ons nie net 'n politieke party nie, maar ware gemeenskapsaktiviste wat diep bewus is van ons mense se werklike behoeftes. Ons streef daarna om oplossings te vind vir die moeilike omstandighede waarin ons gemeenskap leef," het Robertson gesê.
Die DA se provinsiale leier, Tertuis Simmers, het by navraag gesê, "Omdat hierdie bewerings [van die kospakkies] hulself herhaal by elke tussenverkiesing regoor die land waaraan die PA deelneem, is ons versoek dat die OVK hierdie in 'n ernstige lig opneem omdat dit teen die beginsel is van 'n vrye en regverdige verkiesing waarin kiesers sonder onbehoorlike invloed hul keuses moet uitoefen."
Die tussenverkiesing is gehou nadat die vorige PA-raadslid, Christo Alexander, na die DA oorgeloop het en sy setel vakant geraak het.
Lees 'n vorige artikel: PA wen Wyk 20-tussenverkiesing
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’