GEORGE NUUS - Rita Patricia Gregory van die Patriotiese Alliansie (PA) het Woensdag 23 Oktober se tussenverkiesing in Borcherds (Wyk 20) 'n oorwinning behaal deur 1 350 (51,86%) uit 2 603 stemme agter haar te verenig.
'n Totaal van 2 621 kiesers het hul kruisies getrek in dié wyk wat Borcherds, Steinhoff Industriële Park en die Metro-gronde insluit. Die kiespersentasie was 60,02%.
Gregory het te staan gekom teen Christo Alexander van die DA wat 814 stemme (31,27%) gekry het, John Yoko (ANC) met 323 stemme (12,41%), en Lorencio Seconds (Good) met 116 stemme (4,46%).
George Herald het intussen verneem daar is bewerings van PA-lede wat kospakkies in die wyk uitgedeel het aan die vooraand van die verkiesing.
Wayne Alexander, provinsiale hoof van die PA, is genader vir kommentaar en hy het beloof om binnekort terugvoer te gee.
Good het Donderdag in 'n verklaring kommer uitgespreek oor "bewerings van intimidasie en die verspreiding van kos" as "omkoopmiddel" in die aanloop tot die verkiesing.
"Ons is nie gewillig om mee te ding deur die uitbuiting van sosio-ekonomiese realiteite, soos diepgewortelde armoede, misdaad en middelmisbruik, in 'n gemeenskap nie ... Partye moenie toegelaat word om aansporings te betaal nie en die omgewing waarin verkiesings plaasvind, buitekant die grens van die kieslokaal, behoort onafhanklik gemonitor en gepolisieer te word," het Good gesê.
Die DA se leier in die Wes-Kaap, Tertuis Simmers, het in 'n mediaverklaring tevredenheid uitgespreek met sy party se groei in die wyk.
Hy het gesê die DA het sedert 2021 in dié nie-DA wyk groei van net minder as 11% getoon van die 20,41% wat in daardie jaar behaal is.
Rita Gregory van die PA.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’