Hy is kort daarna, nadat hy na een van die polisielede met die graaf gekap het, in die linkerskouer geskiet. Hy het hom op sy kombuisvloer vermoedelik doodgebloei.
Pietersen se vrou, Ella het na die voorval aan die George Herald gesê haar man het omstreeks 03:30 by die huis opgedaag nadat hy by vriende gekuier het en daarop aangedring dat sy vir hom kos maak. Hy was aggressief en het met 'n graaf na haar geslaan waar sy op hul bed gelê het.
"Ek het uit die bed opgespring en my seun Fabian geroep. Ons het uit die huis gehardloop en die Pacaltsdorp-polisie gebel."
Na drie oproepe na die Pacaltsdorp-polisie sê mev. Pietersen, het niemand opgedaag nie en sy het 'n verbygaande polisievangwa opgemerk en hulle gestop. 'n Polisievrou het haar aanbeveel om die George-polisie te kontak, wat sy gedoen het. Kort daarna het twee polisielede van die Pacaltsdorp-polisie daar opgedaag.
"John het weer die graaf in sy hand gehad toe ons by die hek staan en hy het vieslik begin skel, op my en die polisie terwyl hy my sonneblomme met die graaf afgekap het. Hy is toe in die huis en die polisie het mooi met hom gepraat en gepleit dat hy die deur moes oopmaak. Hy wou nie en ek het gesê hulle moet die deur af trap, want ek het dringend goed in die huis nodig gehad. Toe die polisieman die deur trap, het John na hom gekap met die graaf en 'n skoot het afgegaan," het mev. Pietersen gesê.
Paramedici van Metro-nooddienste het onverpoos probeer om Pietersen se lewe te red, maar hy is voor 08:00 dood verklaar.
Omstanders en kennisse op die toneel het onder mekaar gepraat oor Pietersen wat blykbaar 'n geskiedenis van geweld gehad het.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die twee lede het omstreeks 07:00 'n klag van gesinsgeweld bygewoon toe die voorval plaasgevind het. Die Onafhanklike Polisie Ondersoek Direktoraat (Opod) ondersoek 'n moordsaak.
Traumaberading is vir mev. Pietersen, haar seun, Fabian (19) en die polisielede gereël.
'n Geskokte mev. Pietersen het ook met aangrypende deernis en empatie na die jong polisieman wat haar man geskiet het, verwys.
"Dit was selfverdediging. Ek voel so jammer vir die kind, hy was erg geskok en getraumatiseerd."
* A man (37) from Pacaltsdorp was killed by Police at his home New Dawn Park on Tuesday morning after he tried to attack a policeman with a spade when they attended to a complaint of domestic violence. Mr John Pietersen was shot in his left shoulder and allegedly bled to death on his kitchen floor.
Konstabel Steven Machelm van die Pacaltsdorp-speurtak kyk strak teen die grond buite die Pietersen-woning in Garnaalstraat, New Dawn Park. In die kombuisdeur lê die liggaam van mnr. John Pietersen (37) wat Dinsdagoggend deur die polisie geskiet is.
ARTIKEL EN FOTO'S: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS