Die oorledenes en nog drie ander mense wat ernstig beseer is, moes deur Metro- en ER24-nooddienste met meganiese reddingskake uit die wrakke bevry word.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die ongeluk omstreeks 10:30 sowat 'n kilometer van die verkeerssirkel in Langenhovenstraat plaasgevind. "Voorlopige inligting dui daarop dat die bestuurder van die silwer Toyota na George onderweg was toe hy na bewering beheer oor sy voertuig verloor het en reg van voor met 'n wit Opel Astra, wat in die teenoorgestelde rigting gery het, gebots het."
Die bestuurder van die Yaris, mnr. Johannes Jansen (45) van Uniondale en sy seun, Shamiel Blaauw (16) is op die toneel dood. Jansen se ander seun, Jason Blaauw (20) en sy vriend, Edmund Bezuidenhout is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem. Hulle was na verneem word onderweg na George om goedere aan te koop vir Jason se 21stse verjaarsdagpartytjie wat die komende naweek sou plaasvind.
Mnr. Daniël Stander (50) van Knysna was die bestuurder van die Opel Astra. Hy is ook op die toneel oorlede. Hy en sy seun, ook Daniël (in sy 20's) was alleen in die motor. Daniël is ook na die hospitaal geneem vir mediese behandeling.
Die ongeluk in die pas was een van verskeie wat die naweek in en om George plaasgevind het.
Vrydagoggend is 13 mense beseer in 'n kettingbotsing met ses voertuie op die N2-snelweg tussen Thembalethu en die Garden Route Mall. Mnr. John Jantjies van New Dawn Park, Pacaltsdorp is later dieselfde dag in die George-hospitaal oorlede.
In nog 'n ongeluk Sondagaand in Olympicrylaan, Pacaltsdorp is drie mense beseer nadat die bestuurder van 'n ouerige motor beheer oor die voertuig verloor en dit omgeslaan het.

Die verfrommelde wrak van die silwer Toyota Yaris van mnr. Johannes Jansen (45) van Uniondale. Jansen en sy tienerseun seun, Shamiel Blaauw (16) is op die toneel dood nadat hulle reg van voor met 'n Opel Astra gebots het. Die bestuurder van die Opel, mnr. Daniël Stander (50) van Knysna is ook dood. Foto: Malcolm Pojie
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'