GEORGE NUUS - Verskeie opsies word ondersoek om Knysnaweg te beveilig en spoedkameras op dié stuk pad is beslis in die pyplyn.
Daar word tans gereeld van mobiele spoedkameras gebruik gemaak terwyl die munisipaliteit wag vir die uitslag van 'n aansoek om permanente kameras hier op te rig.
Die plaaslike verkeersafdeling is ook besig met die nodige aansoekvorms vir die vermindering van die spoedgrens op die roete tussen die dorp en die Garden Route Mall.
Volgens DA-raadslid, Gert Niehaus, moet die proses om spoedkameras op te rig eers deur die artikel 80-komitee van siviel en tegniese dienste ondersoek word.
"Met ander woorde die proses moet deur 'n komitee gedryf word. Amptenare moet die saak ondersoek en voorstelle maak. Dit word gedebatteer en indien dit goedgekeur word, gaan dit na die raad. Die raad moet dan toestemming by provinsie kry."
Hy sê alhoewel die pad aan provinsie behoort, word daar na alle moontlike maniere gekyk om Knysnaweg te beveilig. "Daar is ook druk van wyksraadslid Peter Louw vir 'n verkeerslig op dié pad," sê hy. "Ek het ook die saak met raadslid Cecile Noble van veiligheid en sekuriteit bespreek. Die prosesse is beslis aan die gang."
Die Van der Merwe-gesin van George het vroeër hierdie jaar hul dogter, Caroline (21), in 'n gru-ongeluk in Knysnaweg verloor. Twee bestuurders het na bewering in haar motor vasgejaag terwyl hulle glo resies gejaag het.
Die gesin het daarna, in 'n gesamentlike poging met Mujo's Restaurant, waar Caroline gewerk het, 'n petisie begin en die munisipaliteit en Wes-Kaapse departement van vervoer gevra om permanente spoedkameras in Knysnaweg aan te bring.
'n Oplossing vir die onwettige laatnagresies op dié stuk pad, word ook aangevra. Die petisie is intussen gesluit met meer as 18 500 handtekeninge.
Volgens die Wes-Kaapse-woordvoerder van vervoer en openbare werke, Byron la Hoe, is George-munisipaliteit verantwoordelik vir spoedwetstoepassing.
"Die petisie gaan eers na die munisipaliteit. Indien hulle besluit dat spoed 'n deurlopende probleem op 'n spesifieke plek is, kan hulle by die direkteur van openbare vervolgings aansoek doen vir 'n permanente spoedkamera. Ondersteunende dokumentasie wat die aantal ongelukke en spoedoortredings behels, sal ook ingedien moet word," sê hy.
La Hoe sê Knysnaweg is 'n geproklameerde pad waar die departement van vervoer en openbare werke 'n uitspraak as beherende gesag het ten opsigte van infrastruktuurverbeterings en padverkeerstekens.
"Permanente spoed-kameras is egter nie baie effektief om spoed te beheer nie, want dit het 'n baie plaaslike effek.
"Om byvoorbeeld die renjaers in die nag te vang, kan baie meer effektief wees."
George-munisipaliteit se direkteur van gemeenskapsdienste, Walter Hendricks, sê plaaslike verkeer patrolleer Knysnaweg en daar word gereeld van mobiele spoedkameras gebruik gemaak.
"544 oortreders is vanaf Mei tot Julie hierdie jaar in Knysnaweg beboet. Die munisipaliteit wag op die uitslag van 'n aansoek om permanente kameras daar te installeer," sê hy.
Hy het ook gesê dat die munisipaliteit bewus is van die petisie om die spoedgrens van 80 km/h tot 60 km/h aan te pas.
George-verkeer en provinsie as padowerheid, het verlede Donderdag hieroor vergader en verkeer is tans besig met die nodige aansoekvorms vir die vermindering van die spoedgrens on Knysnaweg.
Die George Herald het 'n paar keer reeds navraag gedoen oor die identiteite van die twee ander bestuurders in die ongeluk waarin Caroline dood is, en of hulle vervolg word, maar teen druktyd was daar nog geen terugvoer van die polisie ontvang nie.
Lees 'n verwante artikel: Niks nuuts oor spoed in Knysnaweg
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'