Die operasie is geloods in samewerking met ander rolspelers wat die munisipale en provinsiale verkeersmanne, wetstoepas-sers, immigrasie- en gesondheidswerkers ingesluit het.
Verkeerspersoneel het die paaie in en om die taxistaanplek afgesper en alle voertuie is deursoek en onpadwaardige voertuie is geskut.
Gemoedere het plek-plek hoog geloop, maar geen voorvalle van geweld het voorgekom nie.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het vandeesweek gesê die misdaad in en om die taxistaanplek asook die aantal padoortredings wat hier plaasvind, het tot die klopjag gelei.
Bewegende padblokkades
Daar is ook twee bewegende padblok-kades in die middedorp gehou, een omstreeks 08:15 in Cradockstraat waartydens 30 voertuie en 50 persone deursoek is. Hier is 16 verkeersboetes ter waarde van R16 100 uitgereik.
Die tweede padblokkade is in Mitchellstraat gehou en daar is 35 voertuie en 40 mense deursoek. Agttien verkeersboetes ter waarde van R15 000 is uitgereik.
"Soos wat ons die feesseisoen nader, sal hierdie tipe aksies meer intensief toegepas word om algemene veiligheid te verseker," het Pojie gesê.
Verskeie persone is ook in hegtenis geneem vir uitstaande lasbriewe en is onmiddellik na die George-hof geneem waar hulle die opsie gegee is om hul boete te vereffen.
By die taxistaanplek is vyf voertuie geskut en die bestuurder van ‘n ongelisensieerde voertuig met R300 beboet.
Vyf boetes is ook uitgereik vir onwettige handel en vier onwettige strukture is afgebreek.
Die polisie het ook onwettige drankpersele besoek.
Daar is beslag gelê op 284 gram dagga, maar niemand is in hegtenis geneem nie. Die polisie het ook 11 mandrax-tablette en sewe pakkies tik gevind.
Drie persone is aangekla vir dobbel in die publiek. Hulle is almal met R300 beboet.
(1).jpg)
ARTIKEL EN FOTO'S: LIZETTE DA SILVA