GEORGE NUUS - 'n Sokkerafrigter van Sports Academy, Sinenkosi Keyizana, het moue opgerol en self sy deel gedoen om geld in te samel vir die bou van 'n klaskamer by die instansie in George waar hy self 'n leerling was.
Die fondsinsameling is bekend as Cape to Causeway en daar is verskeie deelnemers van oor die wêreld. Die 23-jarige Keyizana is ook algemeen bekend as Keyser.
Die instansie identifiseer kinders in die plaaslike gemeenskap en help hulle dan om akademiese en sportopleiding te ontvang. Die fokus is op leierskapontwikkeling.
Dit is 'n NPO (nie-winsgewende organisasie) en ontvang geen finansiële hulp van die staat nie. Hulle is afhanklik van donasies om voort te gaan om die kinders 'n akademiese en sportopleiding te kan bied, klaskamers op te rig en ook salarisse aan die onderwysers te kan betaal.
Op die oomblik is daar 50 studente. Hulle kom van onder meer Thembalethu, Pacaltsdorp, Parkdene en omliggende gemeenskappe. Volgens Carel Lategan van die Sports Academy het Keyser in Junie dit goed gedink om sy deel te doen om fondse in te samel vir die oprigting van 'n ekstra klaskamer.
Hy het die afgelope tyd gereeld aan strawwe CrossFit oefensessies, bekend as "Murph-sessies", deelgeneem. Daagliks het hy ook saam met klein Johnny Lategan 2 km vir fondsinsameling gehardloop vir die bou van die klaskamer. Johnny is Carel se seuntjie.
Daar word gehoop om uiteindelik minstens R500 000 in te samel.
Volgens Lategan het Keyser in 2012 begin om die naskoolse sokkerprogram by die Sports Academy by te woon. Hy het in 2015 Noord-Ierland besoek as deel van 'n sokkerreis. Lategan het gesê tot dusver het Keyser omtrent R20 000 ingesamel as deel van 'n groter poel waarvan daar deelnemers van oor die wêreld was. Tesame het hulle sover sowat R250 000 ingesamel.
Die skool brei uit en elke jaar kom daar nog leerlinge by. Die plan is om in 2022 twee nuwe klaskamers te bou. Die geld sal daarvoor gebruik word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'