Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Van stilsit is daar nie sprake vir Okkie Stander (70) wat verlede Vrydag, 25 Februarie, as bestuurder van Huis JJ Watson uitgetree het nie. Stander het die afgelope 25 jaar suksesvol aan die stuur van sake gestaan en diep in die harte van bejaarde inwoners ingekruip.
Hy het in 1996 by die tehuis begin werk en was die eerste bestuurder van die tehuis. Voor hom was dit matrones wat by alle tehuise in beheer was.
Enkele ure voordat hy Vrydag vir die laaste keer sy kantoordeur toegetrek het, het hy tyd ingeruim om met George Herald te praat. Hy het benadruk dat hy beslis nie gaan stilsit nie. Oor die jare het hy baie kennis oor versorging en veroudering van bejaardes opgedoen.
Hy is van voorneme om dit oor te dra aan die gemeenskappe. "As jy aftree beteken dit nie jy is seniel nie."
Stander, wat oor 'n doktorsgraad in geskiedenis beskik, wil ook artikels skryf en meer tyd bestee aan sy geliefde vetplante. Die bal is reeds aan die rol om sy eie vetplantkwekery te begin.
Volgens hom was daar groot uitdagings toe hy destyds die leisels by Huis JJ Watson oorgeneem het. Daar was baie dinge wat in plek moes kom. Die gemeenskap het geweldige verwagtinge gehad. Strukturele veranderinge moes aangebring word. So byvoorbeeld moes die matte opgetrek word en is dit met teëls vervang. Soos die behoefte groter geword het, is twee nuwe vleuels later aangebou.
Daar moes ook voorsiening gemaak word vir Alzheimer-pasiënte. Hy en 'n beheerraadslid het plekke in Suid-Afrika besoek waar sulke pasiënte versorg is. Hulle wou seker maak dat sulke pasiënte net die beste versorging kry.
Die personeel is ook bemagtig. Daarom is hulle gedurig op opleidingskursusse gestuur. Die mediese personeel is ook elke maand vir opleiding gestuur. Net soos ander dinge in die lewe verander, verander die versorging van bejaardes ook.
Stander voel sterk oor die versorging van bejaardes. Volgens hom is veroudering 'n relatiewe begrip. Die gemeenskap is geneig om gewoonlik ouer mense, sodra hulle aftree of 60/65 jaar oud word, in 'n houertjie te plaas. Nou mag hy/ sy niks verder doen nie.
Stander het gesê wanneer na die werksplek gekyk word is dit 'n algemene aanvaarbare praktyk in Suid-Afrika en ook in sommige Europese lande dat vrouens op 60 en mans op 65 moet aftree.
VIDEO: Okkie Stander tree af:
"Wat 'n groot jammerte. 'n Vriend van my in Nieu Seeland het net verlede week 'n permanente aanstelling op die ouderdom van 66 gekry. Volgens hom het die ouderdomme van die persone wat die onderhoud met hom gevoer het tussen 60 tot 80 gewissel. Iets om oor na te dink en iets daaraan te doen."
Stander het gesê hy is bereid om met groepe te praat oor veroudering en die bestuur daarvan. Veral na aanleiding van wyle Anna Neethling-Pohl, 'n kampvegter vir veranderende denke oor aftrede, se benadering tot aftrede.
Nuwe bestuurder
Hennie Coetzee van Riviersonderend, het Dinsdag 1 Maart die leisels by Stander oorgeneem. Coetzee was meer as twee jaar bestuurder van 'n Badisa-tehuis in Riviersonderend.
Okkie Stander voor die ingang van Huis JJ Watson.
Okkie Stander trek Vrydag sy kantoordeur die laaste keer toe. Fotos: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'