RIVERSDAL NUUS - Die Hoër Landbouskool Oakdale spog vanjaar met nie minder nie as vier leerders wat die uitdagende Kalahari-vasbyt vroeg in Januarie voltooi het.
Jorik Meyer (Mosselbaai), Danie van Deventer (Klipdale), Marcel Orffer (Vanwyksdorp) en Wesley Barkhuizen (George) het op 4 Januarie eers Covid-19-toetse ondergaan, en van die aanvanklike 31 inskrywings kon slegs 23 deelneem wat negatief getoets het.
Op 6 Januarie is die groep weg na Woodlands in Botswana. Die Vasbyt is daagliks afgeskop met 90 minute liggaamlike oefeninge wat toegeneem het in intensiteit. Van Woodlands het die groep die magtige Zambezirivier te pont oorgesteek na Livingstone.
Meeste van die deelnemers het hul grootste vrese oorkom deur te reksprong van die 130m hoë brug by die Victoriavalle.
Uitdagings gedurende hierdie oorlewingskamp het ingesluit kanovaart op die Zambezirivier met sy kragtige stroomversnellings, oornag in Moremi en ervaringe in die Deception Valley in Sentraal Kalahari sonder enige kampgeriewe in een van die natste reënseisoene nog.
Verskeie deelnemers is dit egter eens dat die grootste uitdaging die gevreesde roetemars was.
Die vier Oakdale-bulle op die brug wat Zimbabwe se grens aandui. Van links: Jorik Meyer, Danie van Deventer, Wesley Barkhuizen en Marcel Orffer.
Die roetemars het bestaan uit 39 km-stap deur bosse met verskeie goedere van die kamp wat saamgedra moes word in die hitte. Hiermee is deursettingsvermoë, spanwerk en leierskap tot die uiterste beproef.
Die laaste dag in Botswana het die groep by die Khama Rhino Sanctuary deurgebring. Terug in SA by Klein Kariba was die 3 km- hardloop onder 15 minute 30 sekondes die laaste uitdaging ten einde te kwalifiseer vir die gesogte Vasbyt-sertifikaat en die titel, Vasbyter te verdien.
"Vasbyt was een van die moeilikste dinge wat ek nog in my lewe aangepak het. Dit verander 'n mens nie net fisies nie, maar ook emosioneel. Ek sal dit enige tyd weer doen en ek sal ander seuns aanmoedig om dit ook te doen," sê Jorik Meyer.
Oakdale leerders neem jaarliks deel aan die Kalahari-vasbyt wat deur Andries Erwee aangebied word.
Die Oakdale-leerders in die veld. Van links is Wesley Barkhuizen, Jorik Meyer, Marcel Orffer en Danie van Deventer.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'