Van die raadslede het moontlike vrese tydens die vergadering geopper wat motorwagte dalk mag ondervind. Die twee grootste vrese blyk te wees dat hul swaar verdiende geld deur ‘n beheerliggaam onderskep sal word, of dat hulle weens ongegronde redes vervang sal word deur individue wat so ‘n liggaam self wil aanstel.
Ná ‘n positiewe meerderheidstem gaan daar egter binnekort ondersoek ingestel word om strenger beheer oor motorwagte toe te pas, sonder om individue van hul huidige posisies te ontneem.
Daar is blykbaar gereeld klagtes van die publiek en besighede dat motorwagte hulle skuldig maak aan wangedrag soos openbare dronkenskap en kru taalgebruik.
Maatskappye sal ‘n geleentheid kry om te tender om as ‘n sambreelliggaam vir motorwagte op te tree. Daar was voorstelle in die raad dat die wetstoepassingsafdeling intussen ‘n ogie oor motorwagte sal hou. Die plan is om die dorp op te deel en van drie tot vier maatskappye gebruik te maak.
Hierdie maatskappye sal onder andere seker maak dat motorwagte aan sekere vereistes voldoen en ernstige wangedrag keer of aanspreek.
Simbiotiese verhouding
By die Pick n Pay-winkelsentrum in Knysnaweg bestaan daar reeds vir die afgelope twee jaar ‘n simbiotiese verhouding tussen die sekuriteitsfirma Springbok Security en die sewe motorwagte op die perseel.
Tydens ‘n gesprek met die betrokke wagte het dit aan die lig gekom dat hulle meer as tevrede is met hul ‘sambreelligaam’. Al sewe motorwagte is deur Springbok Security opgelei as sekuriteitswagte en is geregistreer met vingerafdrukke en ID-afskrifte.
As deel van hul opleiding leer die motorwagte hoe om op te tree in verskillende situasies, en hul flink reaksie het al in die verlede gelei tot arrestasies van onder andere dwelmsmokkelaars en diewe.
"Daar is nooit enige inbrake op die parkeerterrein nie en jy sal selde straatkinders en bedelaars hier sien rondloop," vertel Morné Zeelie van Springbok Security.
Selfone, persoonlike dokumente en beursies word gereeld deur die motorwagte opgetel, in ‘n register geskryf en ingehandig by ‘n spesifieke punt in die kompleks.
Hulle spreek klante op ‘n daaglikse basis aan oor die toesluit van honde en kinders in ‘n warm motor en keer gereeld ongelukke. Die motorwag Richard Knoesen onthou hoe hy ‘n epilepsielyer gehelp het, wat ‘n aanval in haar voertuig gehad het.
Alhoewel die motorwagte nie vir ‘n salaris werk nie, hou hulle al hul fooitjies. "Hulle werk tog immers daarvoor," sê Zeelie. Die motorwagte kry een dag per week af en een naweek per maand.
Volgens Knoesen kon hulle ‘n duidelike ineensinking van die ekonomie voel. Die parkeerterrein was blykbaar baie stiller as gedurende die vorige jare. Ook vir Eric Antonie, wat reeds vir ses jaar as motorwag by die perseel werk, was die laaste twee jaar duidelik minder bedrywig as tevore.
Skelms wegdryf
Die motorwagte wat by Van Rensburgs Foods in Courtenaystraat werksaam is, moet op ‘n gereelde basis skelms, dronk-lappe, haweloses en dwelmslawe van die perseel verdryf.
Barnie Matthee, wat as motorwag daar werk, verduidelik dat dit ‘n voltydse werk is en dikwels ook ‘n ondankbare een. Die ander twee motorwagte op die perseel, Barry en George Mason, beaam dit en voeg by dat dit maar ‘n swak seisoen was, met min fooitjies.
"Die mense is platsak na die vakansie, ons voel almal die ekonomie knyp," sê Matthee.
Matthee werk tans aan ‘n voorstel wat poog om die motorwagbedryf as ‘n koöperatiewe organisasie te bestuur. Hy noem dit ‘n ‘wen-wen’-situasie wat die lot van die motorwag aansienlik sal verbeter en tot voordeel van die dorp in die geheel sal strek.
Matthee het met Seda (Small Enterprise Development Agency) probeer kontak maak en hoop op voorstelle en gesprek-voering hieroor in die onmiddellike toekoms.
Kontak hom gerus by 071 370 3246 vir navrae of hulp met sy idees.
.jpg)
Op hul pos: Van links is Richard Knoesen, Danie Holtzhausen, Johan Smuts, Leoni Green, Eric Antonie, Mark Sungura, Jack Louw en Morné Zeelie.
Artikel en foto’s: Michelle Pienaar