GEORGE NUUS - Pacaltsdorper John T Haas se kenmerkende geesdrif en kleurvolle persoonlikheid het gesorg vir 'n gesellige atmosfeer en aangename oggend by 'n fonds-insamelingstee op Saterdag 30 September by die St. Vincent Palotti Kerk in Pacaltsdorp.
Dit was die eerste van verskeie geleenthede wat beplan word om geld in te samel vir Haas se deelname aan die Talent America-kompetisie in Junie volgende jaar in New York.
Haas, wat van jongs af gedryf word deur 'n passie vir sang en die verhoog, het die derde plek gewen in die George Has Got Talent-kompetisie vroeër vanjaar en dis waar hy raakgesien is deur Show Your Talent, 'n Suid-Afrikaanse organisasie wat met Talent America geassosieer is.
Hy is deur Juanita Oosthuizen, direkteur van Show Your Talent, genader om aan Talent America deel te neem.
"Dis 'n wonderlike geleentheid vir hom. Hy het klaar gekwalifiseer en gaan volgende jaar saam met my en 'n span Suid-Afrikaners wat gaan deelneem. By Talent America is daar vooraanstaande scouts wat talent kom soek en daar is geleenthede vir beurse vir deelnemers. Daar is ook 'n hele toer wat daarmee gepaardgaan. Ons is 10 dae in Amerika," het Oosthuizen aan George Herald gesê.
John T Haas het vir elke gasvrou 'n rooi roos gehad. Hier ontvang Maggie Damons hare.
Haas se akkommodasie- en reiskoste, wat aan Show Your Talent betaalbaar is, is R58 000 en dit sluit nie sakgeld, kos, visum- en inskrywingsfooie of die spanuniform in nie.
Met sy sang en lighartige geskerts het Haas Saterdag enige somberheid wat die koue reënweer moontlik onder sy gaste kon laat posvat, gou-gou verdryf. Gaste is bederf met heerlike koek en tee en gelukstrekkings.
Haas se eggenoot en sy grootste ondersteuner, Divan, het die borge en almal wat die tee ondersteun het, bedank. "Hierdie is die begin van groot dinge," het hy gesê.
Pastoor Alan Spies het 'n spesiale boodskap gebring waarin hy Haas groot sukses toegewens het. "Ons is trots op wat jy vermag het," het hy gesê.
John T Haas (links agter) en sy eggenoot, Divan groet van die gaste, van links: klein Mason en sy pa Zane Damons, Herbertnet Fredericks, Kay Cornelius, Ursula Fredericks, Suzette Stoffels en Shannon Damons. Foto's: Alida de Beer
Die tee was 'n gesellige kuiertjie. Van links is Miriam Seconds, Mavis Job, Sheila Solomons en Mina Williams.
Gaste wat die oggend geniet het, van links: Emily Hollander, Nadia Colburn, Susan Williams en Jordan Hollander.
Valerie Mintoor (links) en Mathilda Lewis het die tee ondersteun. Foto's: Alida de Beer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’