Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Gerugte dat die persoon wat sowat twee weke gelede vir Bianca Langley (18) voor Club Rush in Pacaltsdorp omgery het 'n polisieman is, word deur die polisie ontken.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, is die verdagte waarna hulle steeds op soek is, 'n Kongolese man.
Langley is op Sondagoggend, 31 Maart deur 'n silwerkleurige VW Golf 5 voor die nagklub omgery. Sy en haar vriende was op pad huis toe, toe die voorval in die parkeerarea voor die Spar-winkelsentrum plaasgevind het.
Ooggetuies het aan haar pa, Brandon, vertel hoe die motor eers bo-oor haar gery het, stilgehou het en toe in trurat weer bo-oor haar gery en gaan staan en spin het.
Sy het onder die kar beland en daar vasgesit totdat omstanders die voertuig oplig het. Die gemeenskap het die bestuurder van die voertuig bygekom toe hy glo van die toneel wou vlug. Hy is na bewering na die hospitaal geneem, maar volgens Pojie het die hospitaal geen rekord van die verdagte nie.
"Die verdagte is glo reeds in die klub aangerand en het Langley omgery terwyl hy gevlug het," sê Pojie.
'n Lang herstelpad vir Langley
Langley, wat sedert die ongeluk in die George-hospitaal opgeneem is, het veelvuldige ernstige beserings en verskeie beenbreuke opgedoen waaronder haar bekkenbeen, heupe, bene en arms. Haar linkerarm het ernstige brandwonde opgedoen en haar regterarm is op drie plekke gebreek.
"Sy het reeds talle operasies ondergaan en die einde is nog nie in sig nie," vertel haar pa. "Sy moet binnekort na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gaan waar sy operasies aan haar pelvis, asook 'n heupvervanging, sal moet ondergaan."
'n Klag van roekelose en/of nalatige bestuur word deur die polisie ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Enigiemand met inligting rondom die voorval word versoek om die ondersoekbeampte, ao. William van Schalkwyk by 079 894 1589 te skakel.
Kyk 'n video hieronder:
IN SHORT
*Rumors that the person who knocked down Bianca Langley (18) with his car in front of Club Rush in Beach Road, Pacaltsdorp about two weeks ago was a police officer, was denied by the police. According to Southern Cape police spokesperson, Capt Malcolm Pojie, the suspect they are searching for is a Congolese man. Langley was knocked down by a silver VW Golf 5 on Sunday 31 March. She and her friends were on their way home, when the incident occurred in the parking area in front of the Spar. Witnesses told her father, Brandon, how the car drove over her, stopped, and then reversed over her again.
Lees 'n vorige artikel: Motor ry glo twee keer oor 18-jarige meisie
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'