GEORGE NUUS - Die lewe van 'n jong meisie van Rosedale, Bianca Langley (18), het in 'n oogwink verander toe 'n motor haar op Sondagoggend, 31 Maart, voor Rush-nagklub in Beachweg, Pacaltsdorp, getref het.
Volgens Langley se pa, Brandon, was sy en haar vriende op pad huis toe vanaf die nagklub toe die voertuig omstreeks 03:00 op haar afgepeil het in die parkeerarea voor Spar en bo-oor haar gery het. Ooggetuies het hom vertel hoe die motor eers bo-oor haar gery het, stilgehou het en toe in trurat weer bo-oor haar gery en gaan staan het.
"Sy het onder die kar beland en daar vasgesit totdat omstanders die voertuig oplig het," vertel Brandon.
"Die gemeenskap het die bestuurder van die voertuig bygekom toe hy glo van die toneel wou vlug. Hy is ook gehospitaliseer, maar niemand weet waar hy nou is nie."
Langley, 'n oudleerder van Hoërskool Pacaltsdorp, het veelvuldige ernstige beserings en verskeie beenbreuke opgedoen waaronder haar bekkenbeen, bene en arms. Haar linkerarm het ernstige brandwonde opgedoen en haar regterarm is op drie plekke gebreek.
"Die pad na herstel gaan 'n lang een wees en my vrou sal baie moontlik haar werk moet los om na Bianca om te sien tydens die rehabilitasieproses," sê haar pa.
Langely word binnekort na die Groote Schuur-hospitaal oorgeplaas waar sy verdere operasies aan haar bekkenbeen, wat op verskeie plekke gebreek is, moet ondergaan.
Bianca Langley is volgens haar ouers, 'n lewenslustige meisie met 'n hart van goud.
Vorige ongeluk voor Rush
Allison August (33), wie se been bo die knie geamputeer moes word ná sy in 2016 ook voor Rush raakgery is, is verlede jaar oorlede.
August, 'n oudleerder van Hoërskool Parkdene, het in die Paarl saam met haar man, Heino en hul dogtertjie, Zevah (6), gewoon. Sy was hier op besoek aan haar familie toe die ongeluk destyds plaasgevind het. Allison is aan lewerversaking in die Tygerberg-hospitaal in die Kaap oorlede. Dit kon nog nie bevestig word of August se dood verband hou met die beserings wat sy destyds opgedoen het nie.
Die George Herald het reeds die Woensdag na Langley se ongeluk aan die Pacaltsdorp-polisie 'n navraag rondom die voorval gestuur, maar teen druktyd gisteroggend, Woensdag 10 April, was daar nog geen terugvoer of bykomende inligting van die polisie nie.
Daar kon ook nog nie bevestig word wat van die bestuurder van die motor geword het nie.
Bianca Langley (18) kort na sy 'n ure lange operasie ondergaan het om haar regterarm, wat op drie plekke gebreek is, te herstel. By haar is haar ouers, Brandon en Nazeema Langley. Foto: Kristy Kolberg
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'