GEORGE NUUS - Die familie van Allison August (33) is gebroke, leeg en sonder woorde na sy verlede Woensdag, byna twee jaar na 'n ernstige motorongeluk, uit hulle lewe weggeruk is. Allison en twee vriende is in 2016 voor die Rush-nagklub in Beachweg, Pacaltsdorp, raakgery waarna Allison se been bo die knie geamputeer moes word.
Allison, 'n oudleerder van Hoërskool Parkdene, het die afgelope paar jaar in die Paarl saam met haar man, Heino en hul dogtertjie, Zevah (6), gewoon. Sy was hier op besoek aan haar familie toe die ongeluk plaasgevind het.
Allison is verlede Woensdag 30 Mei aan lewerversaking in die Tygerberg-hospitaal in die Kaap oorlede. Volgens Heino is Allison sowat twee weke gelede in die Paarl-hospitaal opgeneem.
"Hulle het werklik mooi na haar gekyk, maar kon niks meer vir haar doen as wat hulle reeds het nie. Hulle het 'n sonar gedoen en ons na Tygerberg-hospitaal verwys," vertel hy.
Allison is Maandag 28 Mei in Tygerberg opgeneem en is twee dae later aan lewerversaking oorlede. Die moontlikheid dat die oorsaak van Allison se dood verband hou met beserings wat sy tydens die ongeluk opgedoen het, word ondersoek. Dit kan egter eers na die nadoodse ondersoek bevestig word.
"Vir my voel dit nog onwerklik. Dis asof sy nie weg is nie, asof sy nog hier langs my sit. Ek sal altyd lief bly vir haar en na haar verlang," het Heino vandeesweek vanuit die Paarl aan die George Herald gesê. "Ek en Zevah het nou net mekaar. Sy het gisteraand na haar ma gesoek om haar hare te doen. Dit breek my hart."
In 'n SMS-boodskap aan die George Herald het Allison se ma, Felicia, die volgende gesê: "My hart is bitter seer. Die ongeluk het ons reeds deur 'n moeilike tyd gesit, maar niks kon haar onderkry nie. Sy was 'n positiewe mens en wou almal altyd gelukkig sien. Sy was 'n mense-mens. Nou het sy ons verlaat. Hoe vergeet 'n ma haar kind wat so pragtig binne en buite was? Vaarwel my prinses."
Die saak teen die man wat die polisie vermoed die ongeluk veroorsaak het, Benjamin Fielies, is voorlopig van die rol geskrap hangende verdere ondersoek.
Die polisie vermoed Fielies het op 2 Oktober 2016 teen 'n silwerkleurige Daewoo voor die nagklub gebots. Die bestuurder van die Daewoo het beheer oor die voertuig verloor, die pad verlaat en die drie vriende getref.
Begrafnisreëlings
Allison word oorleef deur haar man Heino, hulle dogtertjie, Zeevah, haar ma en pa, Felicia en John Lee, haar suster, Jonelene Lee en haar twee broers, Shane en Ethan. Daar sal vandag, Donderdag 7 Junie om 19:00 'n roudiens by die Rooms-Katolieke kerk op die hoek van Main- en Ballotstraat, Parkdene, gehou word.
Saterdag 9 Junie om 10:00 is daar 'n diens by haar huis in Endlestraat 24, Dalvalle, Paarl, en om 11:00 word sy by die VGK Zions in Drakensteinweg begrawe.
Klik hier vir vorige artikels:
- Vrou verloor been: Nie kwaad na ongeluk
- Nagklub-ongeluk: Saak weer uitgestel
- Opvolg: Jong ma verloor been in ongeluk
- Jong ma verloor been
- Car ploughs into bystanders
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'