Nóg groter was die verrassing toe die ginekoloog aankondig dat dit dié keer nie ‘n pienkvoet is nie. Familie en vriende het klein Mason Marthinus Gallant se aankoms op 30 Januarie opgewonde saam met sy ouers ingewag.
Volgens Lizinda was dié swangerskap heeltemal anders as die vorige drie. Haar geboorteplanne moes ook gou verander, want Mason het ‘n volle 4,3 kg geweeg en is deur middel van ‘n keisersnit gebore.
Lizinda se vorige bevallings was almal "normaal en spoedig". Hul tweede oudste dogter, Carla (11), was so haastig om haar eerste asempie te neem dat pa Marthinus haar sommer self buite Ouma Elizabeth (Battie) se hek in Rosemoor gevang het. Met naelstring en al het ‘n familielid hulle na die hospitaal gehaas terwyl Marthinus vir Carla op die agterste sitplek vasgehou het.
"Eers toe ons by die hospitaal aankom, is die naelstring geknip. Almal was so bekommerd oor pa en baba, hulle het byna van my vergeet," lag Lizinda. Marthinus sê dit was vir hom een van die grootste oomblikke in sy lewe.
Marthinus het Sondag geskerts dat aanhouer wen - hy wou immers soos die meeste pa’s nog altyd ‘n seuntjie gehad het. "Nie net om rugby te leer speel nie, maar iemand om die Gallant-naam voort te dra," sê hy.
"Dit help natuurlik ook om nog ‘n man in die huis te hê, want met so ’n klomp vroue kan ‘n man oorrompel voel!"
Mason is Sondag in die NG Kerk in Rosemoor deur ds C Pieterse gedoop.
"Ons is ewe lief vir al vier ons kinders, maar ons blou-oog seuntjie waarna ons almal so lankal uitgesien het, is voorwaar ‘n sonstraaltjie en ‘n seën," sê die Gallant-egpaar.
.jpg)
Die Gallant-gesin, Kailynn (14), Lizinda, Marthinus, Meggan (6) en Carla (11) saam met klein Mason.