GEORGE NUUS - Daar is lig in die donker tonnel vir Tania Kelly (45), 'n heroïenverslaafde wat haar hartseer verhaal drie maande gelede (6 Junie) met die George Herald gedeel het.
Kelly is een van George se "verlore siele" wat haar nagte as 'n hawelose op straat moes deurbring.
Deesdae lyk dinge baie beter vir die dapper vrou. 'n Ou skoolvriendin van Port Elizabeth, Marguerite Smit, wat die afgelope drie jaar na haar op soek was, het die artikel oor Kelly op die koerant se webwerf gelees en daarvan werk gemaak om haar destydse bestie op te spoor.
'n Lang middagete en baie trane later het meegebring dat Kelly, met die hulp van Freddy Trout van Pasa (People Against Substance Abuse), op 21 Julie na Together We Can, 'n rehabilitasiesentrum in die Weskus, geneem is.
Nou, na sowat sewe weke van behandeling, begin Kelly stadig maar seker haar lang pad na herstel. Só vasberade is sy om gesond te word, dat sy gevra het om 'n hofbevel te teken vir haar eie inhegtenisname sou sy op 'n stadium van die sentrum wegloop.
Vriende vir altyd
Marguerite Smit en Kelly het as 15- en 16-jariges saam kunsklasse by die Port Elizabeth Technikon geneem. Hulle het 'n hegte vriendskap ontwikkel en saam die storms van hul tienerjare aangedurf. Smit het later na die VSA verhuis waar sy 20 jaar gewoon het. Met haar terugkeer na Port Elizabeth, sowat drie jaar gelede, het haar soektog na Kelly begin.
Uiteindelik het 'n gesprek met haar peetdogter se ma, wat in George woon, nuwe lewe aan haar soektog gegee. "My beskrywing van Tania het haar herinner aan 'n artikel wat sy in die koerant gelees het. Toe ek die artikel aanlyn sien het ek geweet wat ek moet doen," het Smit gesê.
"Ek het haar in die strate gaan soek en vir middagete geneem. Dit was hartverskeurend want ek kon niks van my vriendin - die talentvolle, lewenslustige Tania - waarneem nie. Sy het regtig deur 'n baie rowwe tyd gegaan. Dit is so dat haar dogter selfmoord gepleeg het, haar pa is ook dood, sowel as haar man. Hy was ook verslaaf aan heroïen," het Smit gesê.
'n Jong Tania Kelly, in haar twintigs.
Hulp vir Tania
Volgens Smit is hierdie die eerste keer dat haar vriendin self besluit het sy wil hulp hê. "Dit was vir my duidelik sy wil graag lewe, maar daar is geen manier waarop sy dit self kan regkry nie." Smit was geskok met die gebrek aan staatshulp vir dwelmverslaafdes.
"Plaaslik is rehabilitasie peperduur, daarom is sy in die Kaap waar die behandeling 'n fraksie van die prys is. Ek het 'n platform geskep om haar verblyf deur groepsbefondsing moontlik te maak. Diegene wat tot dusver bygedra het is meesal my kennisse van die VSA."
Sover is Kelly se verblyf tot einde September gedek, maar die hoop is om haar minstens twee jaar by die sentrum te hou. "Vir elke vyf jaar van verslawing behoort 'n persoon 'n jaar lank gerehabiliteer te word. Tania het as 14-jarige reeds met dwelms begin eksperimenteer. Ons is desperaat vir hulp."
In gesprek met Smit verlede week het sy laat weet dit gaan uiters goed met Tania. Alhoewel Tania tans nie oproepe mag ontvang nie, kry Smit gereelde insae van die sentrum. "Hulle sê sy doen alles wat van haar verwag word. Met haar ervaring in naaldwerk hou sy haar tans daarmee besig en help almal met stikwerk. Dit gee haar 'n doel en ek is so trots op haar dat sy self hierdie inisiatief geneem het."
Mense wat Tania wil help, kan https://gogetfunding.com/treatment-for-tanya/ besoek.
Vir donasies van toiletware, koffie, tee, suiker, lekkernye en iets spesiaals om haar deur hierdie tyd te help, kontak Freddy Trout by 071 090 4450. Trout besoek Kelly by die sentrum op 10 September.
Tania Kelly tydens ons gesprek in Junie, op straat. Foto: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'