Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Dis die lig wat by haar oë uitstraal wanneer sy vertel waar sy was, en waar sy nou is, wat die belangrike rol van 'n veilige hawe vir mishandelde vroue benadruk.
Wanneer die familie nie meer kans sien vir huisdrama nie, of jy jou vingeralleen in George of elders bevind, vol swart gevoelens en blou kolle, gooi Phambili in Rosemoor hul deur vir vroue oop wat soms vir hul lewe moet vlug.
Die suksesverhale van diegene wat al deur die meule was, met die hulp van hierdie toevlugsoord vir mishandelde vroue en kinders, bring 'n glimlag op die gesig van Meggan October, maatskaplike hulpwerker by Phambili.
"Dit is daardie lekker gevoel in 'n mens se binneste wanneer jy sien 'n inwoner is besig om op haar voete te kom," het sy tydens gesê. "Dit maak alles die moeite werd."
Ondersteuning
Donasies van plaaslike besighede, fonds-insamelingsprojekte en skenkings van privaat persone vanuit die gemeenskap help om die wiele aan die rol te hou.
"Ons kry wel departementele befondsing as 'n nie-winsgewende organisasie, maar ons moet ons koffers aanvul met donasies van sakelui en die gemeenskap," het Hester Greeff, direkteur van die sentrum, gesê.
"Ons is ongelooflik dankbaar vir dit wat mense vir ons gee, en daar waar ons genoeg het deel ons uit aan ander verdienstelike organisasies, soos Bethesda, wat net om die draai van ons is. Hulle help ons ook op hul beurt wanneer hulle 'n groot skenking kry."
Phambili-personeel en raadslede is van links: Torchia Kemp (kleuterskooljuffrou), Meggan October (maatskaplike hulpwerker), Alicia Johnson (dagmatrone), Hester Greeff (direkteur), Esmarie Bruwer (bestuurder) en Belina Plaatjies (dagmatrone). Afwesig: Karen Arendse (maatskaplike werker). Foto: Michelle Pienaar
VIDEO - Phambili Shelter a safety net for battered women:
Toevlugsoord
Vroue wat alles net so moes los, hul kinders in die nag gryp en by Phambili opdaag, benodig soms eenvoudige dinge soos onderklere, toiletware en 'n sagte kombers. Dit is alles goeters waarmee die sentrum help.
Verder word die vroue besig gehou met aktiwiteite soos kunshandwerk, hoe om 'n CV te skryf, basiese rekeningkunde vir persoonlike administrasie, selfverdedigings-klasse en selfversorging.
'n Kleuterskool op die terrein help ma's wat nog jong kinders het en moes vlug van hul omstandighede.
Skoolgaande kinders word na skole geneem, en daar word hard gewerk om die vroue in die gemeenskap te integreer deur middel van werksgeleenthede en opleidingsessies.
Vir meer inligting oor Phambili, kontak hulle by 044 875 1551 of stuur 'n epos na phambilirefuge@telkomsa.net
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’