GEORGE-NUUS - Tydens ‘n eerste formele besoek aan dié ongewone skool wat sowat 12 jaar gelede gestig is, het die klasleier van die middelklas, Bianca le Roux, gesorg vir die allerlekkerste tee en die kinders het spontaan kom ‘hello sê’ en geposeer vir die kamera.
Die klasse is oulik ingerig met kleurvolle prente en leeswoorde, tekens van projekte van die kinders is oral te bespeur en daar hang ‘n vrolikheid in die lug wat deur die hele gebou uitkring.
Die skool het oorspronklik ontstaan as ‘n inisiatief van vier ouers met kinders wat lei aan Down’s-sindroom wat ‘n dringende behoefte vir so ‘n fasiliteit in die Tuinroete gehad het.
Deesdae besit Up With Down’s hul eie huis in Blanco, wat omskep is in ‘n skool, asook ‘n aangrensende huis, wat uitgebou is om te dien as koshuis vir kinders wie se ouers ver bly. Up With Down’s het sedertdien gegroei en akkommodeer 21 kinders en jeugdiges tussen die ouderdom van vyf en 22 jaar, met vier permanente onderwysers, drie assistente en twee administratiewe personeellede.
Stadig maar seker
Die skool ontvang geen staatsubsidie nie en die skoolgelde is onvoldoende om in die lopende koste te voorsien. Die ouers en onderwysers is wel aktief besig met die skool se vier jaarlikse groot fondsinsamelingsprojekte wat help om dinge aan die gang te hou.
Up With Down’s is geregistreer as ‘n nie-winsgewende organisasie en beskik oor ‘n spesiale trustfonds vir die skool. Vanjaar se groot projek is die aanbou van ‘n nuwe klaskamer en die opgradering van hul bestaande rekenaars. Verder is speelgrond- en sporttoerusting altyd welkom.
Daar word ook jaarliks gesoek na borge vir van die kinders se skoolgeld, aangesien nie alle gesinne die finansiële begroting het vir hul kind se behoeftes nie. Die twee skoolbussies het ook voortdurend ‘n diens nodig en brandstof vorm ‘n groot deel van hul skool se uitgawes.
Enigeen wat graag betrokke wil raak by Up With Down’s, of meer wil uitvind oor die skool en hul aktiwiteite, kan kontak maak met Brenda by 044 870 8770.
Sien nog foto's hier: http://www.georgeherald.com/gallery.aspx?gpid=75&gid=2
Artikel en foto's: Michelle Pienaar
Die middelklas met juffrou Christine Jeffrey’s (regs agter) en Sylvia Reid (links agter).