GEORGE NUUS - Die George-munisipaliteit het begin met 'n opname om vas te stel wat mense van sy kommunikasiepogings dink. Verskeie veldwerkers het reeds as deel van die eerste fase aan die voordeure van inwoners geklop. Dit eindig vandag, 28 Februarie.
Daarna breek die tweede fase aan waartydens met gemeenskapsleiers en verteenwoordigers van die sakegemeenskap gepraat sal word. Die plan is om die deel van die navorsing in Maart af te handel en 'n algehele verslag in April beskikbaar te stel.
Die navorsing word gedoen deur Thousand Sensations, 'n marknavorsingsmaatskappy. Dit neem die vorm aan van 'n kort vraelys. 'n Veldwerker vra byvoorbeeld aan 'n inwoner wat hy/sy dink van die bestaande kommunikasiestelsel.
'n Dekbrief word ook aan inwoners oorhandig. In die brief skryf Trevor Botha, George se munisipale bestuurder, dat die doel is om te bepaal wat is die gepaste formele en informele kommunikasiekanale vir inwoners sodat hulle toegang tot inligting kan hê. Die bevindinge sal deel vorm van die munisipaliteit se kommunikasiebeleid, strategie en aksieplan.
Luidens Botha se skrywe is die navorsing gerig op mense wat in die George munisipale gebied woon.
Aangesien die munisipaliteit betrokke is en die instansie 'n verantwoordelikheid het jeens sy gemeenskappe word 'n naam en kontakbesonderhede vir onder meer verwysings benodig.
Die inligting sal slegs vir die navorsingsdoeleindes gebruik word en sal as vertroulik hanteer word.
Alewijn Dippenaar, die navorsings-bestuurder, het alle navrae na die munisipaliteit verwys.
Botha het by navraag aan die George Herald gesê die munisipaliteit kyk na pogings hoe om met die publiek te kommunikeer. Kommunikasie moet ingevolge die munisipale stelselswet plaasvind.
Dit is afgesien van die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan se openbare deelname.
Op 'n vraag oor die koste van die projek het Botha gesê: "Dit sal nie baie wees nie."
Hy het bygevoeg: "Ons gaan probeer om die kommunikasieproses met die publiek te verbeter."
Dr. Dennis Farrell, voorsitter van die George-sakekamer, het gesê die instansie verwelkom 'n poging tot beter kommunikasie. "Dit moet wedersydse kommunikasie wees. Woorde moet in dade omgesit word."
A market research company is undertaking one-on-one interviews with members of the community on behalf of the George Municipality's communications department. The aim is to determine effective formal and informal communications channels with the citizens of George.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'