Update
GEORGE NUUS - Daar was min mense in George wat hom nie geken het nie, en nóg minder wat hom ooit sou vergeet. 'n Bekende gesig op ons paaie saam met sy getroue Jack Russell, Jasper, op sy motorfiets.
'Oom' Basie Gerber (78) was 'n lewenslustige man wat hard gelag het en met oorgawe gehelp het waar hy kon. Dít is hoe sy familie, vriende, en die plaaslike motorfietsgemeenskap hom sal onthou.
Gerber is Maandag 4 Mei oorlede tydens 'n ongeluk waar sy driewielmotorfiets 'n boom by die verkeersirkel op die hoek van York- en Steenbrasstraat, naby die nuwe Mediclinic George, getref het. Volgens sy familie het hy moontlik 'n floute ervaar weens lae bloeddruk voor die ongeluk plaasgevind het.
Jasper was saam met hom tydens die ongeluk, maar is deur omstanders na die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging geneem vir veilige bewaring.
"Hulle het selfs vir hom 'n mikroskyfie ingeplant en hom veilig gehou totdat ek hom kon gaan optel," vertel Gerber se seun, Chris. Jasper sal voortaan by Chris en sy vrou Benita in Calitzdorp woon.
Gerber is in George gebore en het hier grootgeword. Hy was 'n bekende en geliefde figuur in die gemeenskap en het oor die jare in eiendomme gewerk, asook in die gevangenisdiens diens gedoen. Dit was egter sy passie vir motorfietse wat hom 'n legende gemaak het.
Chris beskryf sy pa as 'n lewenslustige maar soms hardkoppige man. "Hy was soms 'n moeilike man, maar hy sou die klere van sy lyf af vir jou gee," sê hy. "Hy het altyd mense gehelp en sou nie skroom om sy laaste sent te deel nie."
Gerber was bekend vir sy respekvolle maniere en hoflikheid, verál teenoor vroue.
"Hy was 'n ware gentleman en 'n mense-mens wat diep spore in baie se lewens getrap het," vertel sy skoondogter Benita.
Sy sê Gerber se kennis van motorfietse was uitsonderlik. Hy het byna elke tipe motorfiets gery en besit, en het baie jonger ryers in die gemeenskap opgelei en gehelp. "Jy kon hom enigiets vra oor 'n motorfiets," sê sy, "hy het die wêreld se kennis gehad".
Alhoewel hy nie aan 'n formele klub behoort het nie, was hy 'n bekende en gerespekteerde figuur onder die motorfietsryers, waar hy gereeld saam met sy seun, skoondogter en motorfietsentoesiaste die pad aangedurf het.
Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie, maar daar word beplan om binnekort 'n diens by Set Free Ministries Garden Route in Groot-Brakrivier te hou.
Verdere besonderhede sal later bekendgemaak word.
Gerber laat sy broer, twee susters, sy seun, dogter en skoondogter agter.
Previous articles:
Basie Gerber was 'n geesdriftige motorfietsryer.‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’