GEORGE NUUS - Sedert Sondag word daar 'n drastiese toename in misdaad in die middedorp opgemerk.
Volgens Francois Van der Merwe van Crime Spotters-buurtwag was daar dié week reeds vier huisbrake, twee gevalle van diefstal uit 'n motorvoertuig en een poging tot diefstal uit 'n motorvoertuig.
"Twee honde is ook gesteel. Een van hulle is teruggevind.
"Gedurende vanoggend se patrollie tussen 02:00 - 05:00 is twee verdagtes in Newtonstraat met vermoedelik gesteelde goedere gevind.
"Ons doen 'n beroep op die gemeenskap om waaksaam te wees vir verdagte persone en voertuie in die area en om dit te raporteer op die groep sodat dit gemonitor kan word," sê hy.
Indien enigiets verdag opgemerk word, word mense gevra om die polisie by 044 803 4733 of 10111 te skakel.
"Ons vra dat motorhekke, veiligheidshekke, motorhuise en stoorkamers gesluit gehou moet word. Verwyder ook alle waardevolle items van 'n geparkeerde voertuig, misdadigers sal self 'n ruit uitslaan op soek na daai kleingeld wat in die motor lê.
"Laastens vra ons dat waardevolle items wat in die erf rond staan uit sig geplaas sal word, baie diefstalle is opportunisties en word uitgelok deur items wat van die pad af gesien kan word," sê van der Merwe.
Lees 'n verwante artikel hier: Dog theft increasing in George
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'