GEORGE NUUS - As deel van 'n misdaadvoorkomingsoperasie is 55 mense sedert verlede Dinsdag, 3 Julie deur Pacaltsdorp-polisie in hegtenis geneem.
Pacaltsdorp-buurtwag in samewerking met die polisie, honde-eenheid en verkeersafdeling het op verskeie klagtes waaronder gesinsgeweld, dwelmhandel, diefstal, aanranding, huisbrake, dronkbestuur en seksuele aanrandings, gereageer.
Tydens dié operasie is ook op verskeie gesteelde items, waaronder kraggereedskap, beslag gelê.
Pacaltsdorp-stasiebevelvoerder, luitenant-kolonel Hans Blaauw, nooi die gemeenskap na die polisiestasie om die gesteelde items uit te ken indien hulle sulke items vermis.
Hy bedank ook die Pacaltsdorp-gemeenskap vir die waardevolle inligting wat aan die polisie en buurtwag deurgegee word. "Dit lei tot die bekamping van misdaad en om Pacaltsdorp veilig te hou," sê hy.
Enige persoon wat inligting aan die polisie wil deurgee kan adjudant-offisier Charl Heynes by 079 894 1362 skakel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'