GEORGE NUUS - Genevive Carelse, 'n professionele verpleegkundige by Mediclinic George en Geneva, is vanjaar se ontvanger van die jaarlikse toekenning vir uitnemendheid in verpleging by dié hospitaal.
Sy ontvang hierdie simbool van waardering en erkenning vir die toewyding waarmee sy na haar pasiënte omsien en haar kollegas ondersteun.
"Ons erken dat daar agter elke uitnemende verpleegkundige 'n span uitnemende verpleegkundiges is wat die benoeming deur haar kollegas selfs nog merkwaardiger maak," het Kassie Karstens, Mediclinic George se bestuurder, gesê.
Die oorhandiging van die toekenning het op Internasionale Verpleegkundigedag op 12 Mei plaasgevind by Mediclinic George se viering van hierdie spesiale dag om erkenning te gee aan sy verpleegkundiges en hul ongelooflike bydrae tot die gemeenskap.
Carelse is die afgelope 15 jaar by Mediclinic en werk in die opleidingsafdeling.
"Gedurende 2020 en die begin van 2021 was sy altyd gewillig om in die hospitaal uit te help waar daar 'n behoefte was. Genevive het ook gehelp in die Covid-intensiewesorgeenheid sonder enige klagtes en was altyd beskikbaar as daar op haar knoppie gedruk is. Sy is 'n welverdiende wenner van hierdie spesiale toekenning," het Karstens gesê.
"2021 was vir alle gesondheidswerkers regoor die wêreld 'n uitdagende jaar en ons is bly om hierdie geleentheid te hê om ons verpleegspanne in die kollig te plaas. Ons gee erkenning aan elke verpleegkundige wat verpleging as loopbaan gekies het."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'