Brits was op pad huis toe nadat hy verskeie bestuursvergaderings in Kaapstad bygewoon het, toe sy voertuig van agter met 'n stadig-bewegende swaar voertuig gebots het. Na bewering is hy op slag dood. Niemand anders is in die ongeluk beseer nie.
Die stasiekommissaris van die KwaNonqaba-polisie, lt kol Johan Braaff, het bevestig dat 'n swaar voertuig aan die linkerkant van die geel streep baie stadig gereis het omdat die bestuurder voornemens was om te stop omdat probleme met die voertuig ondervind is. Dit is onbekend hoekom Brits se voertuig teen die trok gebots het.
Nooddienspersoneel het die N2 in beide rigtings vir geruime tyd gesluit terwyl die ongelukstoneel opgeruim is.
Op Donderdagoggend het medewerkers met skok op die dood van hul kollega reageer. Die provinsiale bestuurder van die Noodreddingsdiens (EMS), Pumzile Papu, het Brits geloof vir sy bydrae tot nooddienste in die ganse Suid-Kaap.
Mnr Brits was met sy afsterwe die bestuurder van die Landelike EMS Healthnet Dienste in die Eden Distrik wat pasiëntvervoerdienste koördineer en bestuur.
Hy was vir 20 jaar verbonde aan die Brand en Reddingsdiens, onder meer as hoof van brandweerdienste vir George / Eden, en het sowat 15 jaar gelede as bedryfsbestuurder by die EMS diens aanvaar. Daar het hy gou verskeie bestuursposte beklee.
Die woordvoerder van die EMS, mnr Robert Daniels berig: "Ons betuig ons innige meegevoel met sy familie en geliefdes en ons wil hulle bedank vir hul geduld en begrip. Hy het baie veeleisende ure in diens van sy medemens afgelê en sy lojaliteit teenoor Nooddienste het die die veiligheid van talle burgerlike lewens oor sy 35 jaar van voortreflike diens gelewer. Hy sal gemis word."