GEORGE NUUS - 'n Geregtelike doodsondersoek word gedoen ná 'n menslike skedel in 'n rivierstroom in die berg naby Blanco in George gevind is.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, is die skedel Saterdag 15 Mei deur twee verbygangers in die bos in die vlak water gevind.
"Die twee vriende het in die bos langs 'n rivierstroom gestap toe hulle die skedel in die vlak water sien lê het. George-polisie is in kennis gestel en forensiese lede van ons plaaslike kriminele rekordsentrum is na die toneel gestuur," sê Pojie.
Pojie kon bevestig dat die skedel dié van 'n man, vermoedelik in sy 20’s, is. Die identiteit is nog nie bekend nie.
"Die ondersoek is nog in 'n vroeë stadium en geen misdaad word tans vermoed nie. Geen ander liggaamsdele kon opgespoor word nie," sê hy.
Volgens inligting dui merke op die skedel daarop dat dit moontlik al 'n wyle in die rivierstroom ronddryf.
Enigiemand met inligting oor die skedel of die oorsprong daarvan word gevra om die ondersoekbeampte, sers. John Boezak by die George-speurtak, te kontak by 044 803 4715 of Stop Misdaad by 08600 10111. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
IN SHORT
George police have opened an inquest docket for further investigation following the discovery of a human skull on Saturday 16 May. Southern Cape police spokesperson, Capt Malcolm Pojie, said two hikers found the scull in a shallow stream in the mountain near Blanco, George. No foul play is suspected at this stage and no other body parts were found.
'We bring you the latest George, Garden Route news'