Die huis, op die hoek van Palgrave- en Yorkstraat, se vensters en deure is uitgebreek en rommel en menslike afval lê van hoek tot kant gestrooi.
Die mure is bedek met graffiti, terwyl die Aerolite uit reuse gate in die plafon peul. Die haweloses maak sommer hulle vuurtjies binne-in die huis op die vloer.
Een van die haweloses is dood in die huis aangetref en die polisie het sy liggaam Sondag 29 Augustus verwyder.
Sonder om die gevare te besef, het skoolkinders van die omgewing ook al glo die vervalle huis as ‘n skelm rookplek gebruik. Twee skoolseuns is onlangs daar aangeval en nadat die een erg gewurg is, het hy gelukkig daarin geslaag om te ontsnap.
Die buurman, Lyndon Brown, sê die huis staan sedert middel 2009 leeg en ‘n paar maande later het die eerste onwettige intrekkers dit hulle tuiste gemaak.
Brown het sy huis onlangs uit radeloosheid in die mark gesit. "Ek het al hoeveel keer die owerhede gebel en gevra om stappe teen die eienaars te neem en die ongure karakters te verwyder.
"Ek het ook ‘n amptelike klag by omgewingsake gaan lê, maar daar het niks van gekom nie.
"Die huis en sy inwoners se gewoontes hou nie net ‘n brandgevaar in nie, maar ook gesondheidsrisiko’s. Ek sukkel op die oomblik om rotte so groot soos katte van my dak en eiendom weg te hou."
Brown sê hy is te bang om sy kinders vir ‘n oomblik alleen tuis te laat omdat die elemente wat langsaan uithang almal in die omgewing dreig en intimideer.
Drastiese optrede nodig
Juan Barnard se supermark, Yorkers Multisave is net oorkant die pad van die bouval en hy sê dis tyd dat iets drasties gedoen word. "My kliënte word lastig geval en die booswigte het al selfs my voorraad George Heralds probeer steel om dit te gaan smous."
Die senior bestuurder van omgewingsake in George, André Smith, het die eienaars van die leë huis gekontak en beveel om die huis in orde te kry. "Kwotasies is aangevra vir die skoonmaak van die huis en tuin en die eienaars sal dit nou laat doen. Dit is duidelik aan hulle gestel dat die situasie onaanvaarbaar is en dat dinge nie so kan aangaan nie."
Volgens Smith is George se departement van stads- en streeksbeplanning ook van die haweloses in die huis verwittig.
Die huis is glo in die naam van ‘n maatskappy in Knysna, Access Trading geregistreer.
Die onderneming is egter nie in die telefoongids of by Telkom-navrae gelys nie en die George Herald kon slegs ‘n fakslyn in die hande kry.
Teen saktyd het hulle steeds nie op ons navrae gereageer nie.
Lydia Grobler van Lydia Grobler Eiendomme in George het die eiendom aan die nuwe eienaars verkoop en sê sy vermoed hulle wil die huis sloop.
Artikel: Ilse Schoonraad
.jpg)
Die sitkamer - die stank in die huis is ondraaglik.