Gallery
GEORGE NUUS & AUDIO - Die hofdatum waarop onwettige grondbesetters in New Dawn Park in die hof moes verskyn is vir eers op ys. Die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Bonginkosi Madikizela, het Maandagmiddag tydens 'n vergadering in die George-raadsaal onderneem om weer besoek af te lê en belanghebbendes te ontmoet oor die kwessie.
Madikizela het die versekering gegee dat hy die hofproses vir eers sal stop. Die New Dawn Parkers sou op 5 Maart in die hof verskyn weens onwettige grondbesetting op 'n stuk grond langs die laerskool in hul woongebied. "Ek sal met julle ontmoet en dan sal ons 'n manier kry om die situasie te hanteer," het hy gesê.
Die minister het voorts onderneem om 'n besoek aan die Erf 325-ontwikkeling af te lê, waaroor Syferfonteiners ongelukkig is. Hy het ook onderneem om met Khoi-leiers te vergader vir 'n bespreking rondom die grondkwessies wat tydens die vergadering geopper is. Die kwessies strek wyer as die George-gebied.
Tydens die vergadering het drie tradisionele leiers van die Pacaltsdorp Khoi-raad die verrigtinge oorheers deur oor grondkwessies te praat wat nie deel van die agenda was nie.
Die Khoi-leier Stanley Laminie, het namens die Khoi aanspraak gemaak op Erf 325, waar sy grootouers begrawe is. Kwessies wat verband hou met Wilderness-hoogte, Knysna en Wupperthal is ook deur ander tradisionele leiers geopper. Die vergadering was meer as 'n uur aan die gang voor James Smith, wat die Syferfonteiners verteenwoordig, 'n spreekbeurt gekry het.
Bonginkosi Madikizela aan die woord, met Gerrit Pretorius (regs), speaker van die George-raad. Foto's: Michelle Pienaar
Beplanning plaaslik gedoen
Madikizela het die vergadering aanvanklik belê vir 'n bespreking van die memorandum wat tydens 'n onlangse betoging deur inwoners van Rosedale en Syferfontein aan burgemeester Melvin Naik oorhandig is, wat dit op sy beurt na die provinsiale departement van menslike nedersettings vir terugvoer gestuur het.
Adam Plaatjies van die PBI het tydens 'n spreekbeurt gesê die hele gemeenskap van George het twee weke gelede 'n protesoptog oor behuising gehou, waartydens Naik die hele kwessie oor behuising voor die provinsiale departement se deur gelê het. Madikizela het daarop geantwoord dat die beplanning en prioritisering van behuising deur munisipaliteite self gedoen word.
James Smith verteenwoordig die Syferfonteiners en hul griewe oor die behuisingsprojek by Erf 325.
Verdigting noodsaaklik
Madikizela het onder andere terugvoer gegee oor die grootte van die huise vir die Erf 325-projek en beweringe dat die publieke deelname proses onvoldoende was. Hy het gesê indien die huise en erwe vergroot word, dit enorme kostes inhou en die helfte van die begunstigdes sal nie huise kan ontvang nie.
Die duur van die projek beloop al meer as vyf jaar. Dit sal ook minstens 'n jaar langer neem om te voltooi, met verskeie duur prosesse wat oorgedoen moet word, soos die omgewingsimpakstudie. Hy het verduidelik dat verdigting noodsaaklik is om die behoefte aan huise te akkommodeer.
Die bestuur van die New Dawn Park-grondbesetters, verteenwoordigers van die PBI, Icosa, die Pacaltsdorp Khoi-raad en verteenwoordigers van ander wyke soos Borcherds, het die vergadering bygewoon.
Hulle was almal onder die indruk dat die grondkwessie van New Dawn Park, sowel as ander grondkwessies, onder bespreking gaan wees. Verskeie munisipale en provinsiale amptenare was teenwoordig.
Lees vorige artikels hier:
- Madikizela gaan wéér kom praat oor behuisingsnood
- Naik gee koue feite oor huise
- Aansoek vir hutte se afbreek val plat
- Nuwe hoop vir New Dawn Park-Grondbesetters
- Grondbesetters wag in die hof
- Grondbesetters wend hul na die hof
- Update: Protesters still waiting for Mayor
- Update: Motorists to avoid York Street
- Update: Marchers at Municipality
- March in support of backyard dwellers
- Landless see red
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'