Aan die begin van die jaar het dié groep, tydens Bergsig se ‘40 dae van liefde’-program, besluit om iets vir ‘n individu van Thembalethu te doen.
Xoliswa Hermans en haar seun Lindokuhle is aan die groep voorgestel as mense wat dringend hulp benodig. Die kleingroep het toe besluit om vir haar ‘n huisie te bou waarin sy voor die winter kon intrek. Bydraes is van binne die groep gegee en ‘n teelepeltjie-ete ten bate van fondse vir die huisie is gehou.
Nadat die projek by die kerk bekendgestel is, het verskeie mense na vore gekom met skenkings van onder andere vensters, deure, spesiale pryse vir die sink, stene vir plaveisel, die gooi van ‘n vloer, staal, kassies, diefwering, meubels en gordyne.
Die huisie is uiteindelik sodanig klaar dat Xoliswa kon intrek. Sy het die sleutel vroeër die week ontvang.
In die lig van die ongelooflike ondervinding om werklik ‘n verskil in iemand se lewe te maak, nooi die kleingroep ander groepe in die dorp of streek uit om dieselfde te doen en iemand in Thembalethu of in die agtergeblewe areas aan te neem om vir hulle ‘n huisie te bou.
Regs is Xoliswa Hermans se ou huisie wat in skrille kontras staan met haar nuwe woonplek wat net links daarvan gebou is.