Update
GEORGE NUUS - Lucas Maree is weer “terug” by Victoriabaai. En die keer saam met oudpresident Nelson Mandela.
‘n Bordjie met Maree se naam en ‘n aanhaling uit sy liedjie Victoriabaai, asook ‘n aanhaling van Mandela, is Donderdag op ‘n bankie by die suidwestelike punt aangebring en onthul.
Nog ’n bankie is deur Neil Schalkwyk geskenk. Die bankies het lank daar gestaan voordat die distriksmunisipaliteit toestemming daarvoor gegee het.
Die funksie het onder die vaandel van die Garden Route-distrikmunisipaliteit plaasgevind en is onder meer bygewoon deur burgemeester, Memory Booysen.
Tydens die geleentheid is musiek van Maree gespeel. Dit is nie ver van waar ‘n steen met woorde van ‘n liedjie van Maree verlede jaar (2020) op inisiatief van sy familie verwyder is nie. Dit was midde ‘n storm wat losgebars het oor die teenwoordigheid van gedenkplaatjies en kissies met as.
Maree sê as is na sy dood daar in die see gestrooi. Die meerderheid van die gedenkplaatjies en kissies is later deur ‘n inwoner, Neil Schalkwyk van die rotse laat verwyder.
Die gedenkplaatjie wat op een van die bankies aangebring is.
Foto’s: Eugene Gunning
Donderdag se geleentheid is deur wyle Maree se suster, René Janse van Vuuren, sy twee dogters en sy kleinkind bygewoon. Blykbaar is hulle deur André Groenewald wat betrokke was by die vestiging van die spesifieke bankie, na die geleentheid genooi. Janse van Vuuren is van Bloemfontein.
In Oktober verlede jaar het Maree se suster, René Janse van Vuuren aan George Herald gesê dat sy en die Maree-familie geen betrokkenheid by huidige of toekomstige projekte oor Lucas Maree by Victoriabaai het nie.
Na die geleentheid Donderdag het sy gesê dit is baie spesiaal vir die Maree-familie. Die feit dat ‘n versie van Maree se liedjie Victoriabaai daar verskyn is ongelooflik.
Op die vraag waarom sy van standpunt verander het, het sy geantwoord dat voorheen was sy baie getraumatiseerd en emosioneel oor die aangeleentheid. Sy het met Groenewald gesels en hy het haar ingelig oor wat hy gaan doen. Sy wou graag deel daarvan wees. Dit is regtig ‘n riem onder die hart.
Booysen het gesê daar was ‘n bepaalde proses wat eers gevolg moes word voordat goedkeuring vir die bankies gegee kon word. Hy het erken gegewe die verwydering van die ander kissies met as en gedenkstene kan dit ‘n presedent skep.
Hy het bygevoeg as dit mense bymekaarbring hoekom dan nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'