GEORGE NUUS - 'n Protea is vroeg Maandagoggend deur René Janse van Vuuren, suster van die bekende Afrikaanse sanger, wyle Lucas Maree, op die rotse aan die suidwestelike punt van Victoriabaai geplaas. Dit is waar haar broer se gedenksteen tot in Januarie vanjaar nog gestaan het.
Sy en haar eggenoot, Lukas Janse van Vuuren was op pad terug na Bloemfontein na 'n kort vakansie in die Kaap, maar hulle het eers by Victoriabaai gestop.
Janse van Vuuren het vroeg vanjaar uit eie wil ingestem dat die gedenksteen verwyder word. (Sien kassie) Dr. Danie Langer, besturende direkteur van die FAK en Gerda Stols, 'n inwoner van George, het haar gehelp en die proses hanteer.
Janse van Vuuren het Maandag gesê sy is hartseer, maar tevrede met die uitkoms. Sy is vir niemand kwaad nie. "Ek sou graag die plekkie hier nog vir die steen wou gehad het. Dit was 'n geskenk vir Victoriabaai in Junie 2019. Dit was nie 'n grafsteen vir Lucas nie."
Dit was eindelik ook nie 'n gedenksteen nie. Die idee was om dit deel te maak van 'n kunsroete as mense die KKNK op Oudtshoorn en ook Hartenbos besoek en ook oor die woorde van sy liedjie, Victoriabaai.
"Ek dink Lucas sou dit nog geniet het om op so 'n manier vir die mense te sê hoe mooi hul plekkie is. Almal kon dit sien. Die woorde van sy liedjie is so tipies. Victoriabaai is die mooiste plekkie."
Sy moedig mense aan om steeds Victoriabaai te besoek. "Vir my sit Lucas nog steeds op sy kliptroon by Victoriabaai."
Die gedenksteen van wyle Lucas Maree by Victoriabaai kort voordat dit in Januarie verwyder is. Foto: Eugene Gunning
Sy het begrip dat van die inwoners 'n slegte ondervinding met die gedenkstene en kissies gehad het. Sy het bygevoeg: "Ek is bly dinge het so uitgedraai. Ek sluit met die neersit van die blom die hoofstuk van die gedenksteen af. Ek sal nog steeds blomme daar kom neersit as ek hier kom."
Janse van Vuuren het haar dank teenoor Stols en Langer uitgespreek. "Hul bydrae om in te spring en te help, was 'n riem onder die hart. Gerda Stols was 'n steunpilaar in die storm wat losgebars het oor die gedenksteen."
Sy het benadruk dat sy en die Maree-familie geen betrokkenheid het by huidige of toekomstige projekte oor Lucas Maree by Victoriabaai nie.
KASSIE:
Hoekom steen verwyder is Janse van Vuuren het in Januarie vanjaar uit eie wil ingestem dat die gedenksteen verwyder word. Dit was nadat van die inwoners ongelukkig was oor van die kruise en kissies met as daar.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gehoor het dat inwoners ongelukkig is oor die gedenkstene en kissies. Dr. Danie Langer, besturende direkteur van die FAK, het haar gekontak en wou hoor of hulle dit kan kry om te skuif na die Afrikaanse liedjietuin by die Voortrekkermonument in Pretoria. Gerda Stols, 'n inwoner van George, is deur die FAK genader en sy het die proses plaaslik hanteer.
*Maree is op 18 Februarie 2011 aan nierversaking oorlede en sy as is later in die see by Victoriabaai gestrooi.
Die blom wat René Janse van Vuuren, suster van die bekende Afrikaanse sanger wyle Lucas Maree, Maandag op die rotse aan die suidwestelike punt van Victoriabaai neergesit het. Dit is waar haar broer se gedenksteen tot in Januarie vanjaar nog gestaan het. Foto: Eugene Gunning
Early on Monday morning René Janse van Vuuren, the sister of the well-known Afrikaans singer, the late Lucas Maree placed a flower on the rocks at the southwestern point of Victoria Bay. That was a plaque in remembrance of Maree and was removed in January after the FAK received permission from his family to take it to Pretoria. In December some of Vic Bay's residents agreed that a way must be found to remove the plaques and urns with ashes that have been put at the southwestern end of the bay. Janse van Vuuren said by placing the flower the chapter on the plaque at Victoria Bay is closed.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'