GEORGE NUUS - Die laat oopmakery van die lisensiekantore verlede Vrydagoggend, 6 Maart, het mense weer warm onder die kraag gehad. Verskeie mense het al van kort na 07:00 begin toustaan omdat hulle voor in die tou wou wees. Die kantore is veronderstel om 08:00 oop te maak, maar uiteindelik het dit eers na 09:00 oopgemaak.
Riaan Claassen was onder die talle mense wat moes wag. Hy wou 'n voertuiglisensie hernu. Volgens hom was hy omstreeks 07:10 daar en omtrent 11de in die ry. Toe het die lang wag begin. Hy het juis vroeg gegaan sodat hy vroeg gehelp kon word. Hy was vroeër daardie week twee keer daar en elke keer was dit baie besig. Hy het toe Vrydag teruggegaan.
Hoe langer hy gewag het, hoe langer het die tou geword. Teen 07:45 was daar al omtrent 20 mense. In 'n stadium het daar 'n man aangekom om te kom oopsluit. Hy kon nie die deur oopkry nie en het toe weer vertrek om 'n sleutel te gaan haal.
Volgens Claassen het van die mense ongelukkig begin raak, want van hulle het by die werk afgevat.
Die man met die sleutel het omstreeks 08:15 teruggekeer. Hy was vergesel van ander werkers en veiligheidspersoneel. Teen 08:30 was daar nog geen beweging nie. Van die mense wat gewag het, het later geloop omdat hulle ander afsprake gehad het.
Van die mense wat verlede Vrydag tou gestaan het by die lisensie-kantore.
Teen 08:35 het een van die mense wat gewag aan die deur gaan klop en hy is meegedeel dat die personeel eers vergadering hou. Van die mense het toe gery.
Claassen het ook navraag by die munisipaliteit gedoen en gehoor daar was glo 'n probleem met sleutels. Hy het ook intussen sy werkgewer in kennis gestel dat hy laat gaan wees.
Teen 09:10 is die deure oopgemaak. Hy is baie ongelukkig oor die gebeure. In effek het die kantore 'n uur en 10 minute laat oopgemaak. “Dis onaanvaarbaar. Dis swak dienslewering,” het hy gesê.
'n Leser het vertel dat sy en 'n bejaarde vrou al omstreeks 07:00 daar was. Die leser is erg ontstoke.
Die George Herald het betroubaar verneem dat die waarnemende bestuurder van die kantore blykbaar siek was en die sleutel moes glo eers by haar gaan haal word. Die sleutel is eers na 08:00 by haar opgetel en toe moes die kassiere nog eers opkas.
Die George-munisipaliteit het by navraag gesê as gevolg van omstandighede buite die instansie se beheer het die kantore eers om 09:00 geopen. Alles moontlik is gedoen om die stelsels so gou moontlik aan die gang te kry. Die munisipaliteit het om verskoning gevra vir enige ongerief.
Van die mense wat verlede Vrydag tougestaan het by die lisensiekantore.
People that were standing queue last Friday at the Motor Vehicle Registration and Licensing Department were unhappy that they had to wait more than a hour before the doors openend. In reply the George municipality said: "Due to circumstances out of our control the Motor Vehicle Registration and Licensing Department only opened at 09:00 today (6 March) . Management did everything in their power to get the systems running and quickly opening the doors to the public. The manager also extended an apology to the members of the public present. George Municipality apologises again for any inconvenience experienced by the public in this regard.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'