GEORGE NUUS - Die polisie van George ondersoek 'n saak van aanranding ná 'n voorval op Donderdag 6 Junie waarin 'n 16-jarige seun van die Hoekwil-omgewing 'n steekwond aan sy regterhand opgedoen het.
Sy pa het hom na Mediclinic George se noodeenheid geneem waar hy steke moes kry. Hy kon volgens sy pa nie sy Geografie-vraestel Maandag voltooi nie weens pyn in die hand.
Volgens sy pa het hy in die verlede al verskeie pogings aangewend om die distrikskantoor van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) te oorreed om busvervoer vir skoolkinders van daardie omgewing beter te skeduleer.
Leerders word soggens by hulle onderskeie punte naby aan hul woonplekke opgelaai, maar in die middae langs die grootpad verby Touwsranten afgelaai, waar hulle vir twee tot drie ure wag vir 'n volgende bus om hulle nader aan die huis te neem.
"Ek het my kommer teenoor die depar-tement gelug oor die gevaar wat dit vir die kinders inhou, maar het geen terugvoer gekry nie, en nou het my seun 'n slagoffer geword.
" Die kind wat hom gesteek het, is van 'n ander skool en woon in Touwsranten. Hy behoort blykbaar aan 'n bende. Hy het my seun gesteek terwyl hy op die bus geklim het."
Sers. Chris Spies, die Suid-Kaap se polisiewoordvoerder, het by navraag bevestig die George-speurafdeling ondersoek 'n saak van aanranding om ernstig te beseer ná 'n insident op 'n bus in Hoekwil om ongeveer 15:00 verlede Donderdag.
"Daar word beweer dat die twee insittendes van die voertuig 'n onderonsie gehad het en die 16-jarige seun het 'n steekwond aan sy gewrig opgedoen. Hy is na 'n mediese fasiliteit geneem vir behandeling. Die voorval is later by die polisie aangemeld. Die ondersoek in die saak duur voort. Die verdagte is nog nie gearresteer nie."
Die seun moes steke kry vir die steekwond aan die gewrig.
WKOD se kommentaar
WKOD-kommunikasiebeampte, Millicent Merton, het by navraag gesê die twee leerders is van verskillende skole, maar deel dieselfde vervoerroete. Die busmaatskappy wat die vervoer verskaf, African Express, bedien drie hoofroetes na Parkdene Sekondêr, Hoërskool George en skole in Thembalethu.
Die meeste van die leerders op hierdie roetes woon in Touwsranten met 'n kleiner aantal wat van omliggende bosbougemeenskappe soos Beervlei en Lancewood is.
"Dit is uitdagend vir groter voertuie soos busse om op hierdie kleiner paaie te ry. Om dit aan te spreek, word 'n kleiner voertuig gebruik om hierdie leerders te vervoer."
Merton sê soggens stap leerders uit Touwsranten na die optel-/aflaaipunt langs die grootpad. Die kleiner bus wat leerders van Beervlei en Lancewood gaan optel, laai die leerders wat na Hoërskool George en Parkdene Sekondêr gaan, by hierdie punt af waar hulle die groot bus haal. Thembalethu-leerders word deur die klein bus skool toe geneem.
"In die middae, afhangende van wie eerste by die aflaaipunt aanland, kan daar 'n wagperiode wees. Gesprekke met die diensverskaffer om alternatiewe reëlings te tref, duur voort en die department is besig om die saak te ondersoek om 'n bevredigende oplossing te vind wat die risiko's deeglik sal aanspreek."
Kinders sit smiddae op die gras langs die grootpad deur Touwsranten en wag totdat 'n tweede bus hulle optel.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’