GEORGE NUUS - Die Early Act-klub by Laerskool Outeniqua het onlangs hulle nuutste gemeenskapsprojek voltooi.
Early Act word by laerskole deur die internasionale Rotariër-diensorganisasie ondersteun en het ten doel om jong leerders toe te rus met ‘n groeiende bewustheid, kennis en empatie vir hul gemeenskap en wêreld.
"Nadat ons al voorheen na hulle uitgereik het, beklee die kinders van Môreson Kinder- en Jeugsorgsentrum ‘n spesiale plek in ons harte," sê Danielle Barnard, onderwyser en Early Act-koördineerder by Outeniqua.
"Ons wou graag weer iets spesiaals vir hierdie kinders doen. Ons Early Actors was meer as opgewasse vir die taak."
Die leerders by die Early Act-klub, bygestaan deur hul ouers, het storieboeke, inkleurboeke en vrugte voorsien en op 16 Augustus het 20 die Early Acters by Môreson opgedaag met hul voorrade en baie entoesiasme. Na hulle die skenkings oorhandig het, het hulle saam met die voorskoolse kinders uit die boeke gelees en gespeel.
“Ons is so trots om met die Outeniqua Early Acters geassosieer te word,” sê Charles Rowe, president van die George Rotariërklub.
“Hulle inisiatiewe verpersoonlik die leierskap, empatie en gemeenskapsbetrokkenheid wat ons land baie nodig het.”
Môreson benodig mense om betrokke te raak as vrywilligers, spesifiek deur bystand met skoolwerk of sport, die borg van kinders of om ouers vir ‘n naweek of vakansie te wees. Finansiële bydraes is ook welkom, so ook verjaardaggeskenke vir die kinders, klere, skryfbehoeftes, vrugte, groente, of items wat in die huise gebruik kan word. Rig navrae aan Adri Quiens by 078 011 3042.
Early Acters maak reg vir die oorhandiging.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’