GEORGE NUUS - Die Wes-Kaapse departement van kultuur in samewerking met die Baxter-teater in Kaapstad, bied jaarliks 'n kompetisie aan om drama-aanbiedings in die verskillende distrikte te bevorder.
Die kompetisie het met die inskryf van 'n oorspronklike teks begin.
Monicke van der Walt (gr. 12) se teks Oud het na die halfeindronde deurgedring. Onder leiding van Monicke het drie dramaleerders, David Smith en Lica Botes (gr. 12), asook Anja Goosen (gr. 11), die stuk by die halfeindronde opgevoer en na die eindronde deurgedring.
Die beoordelaars was Abduragman Adams, skrywer/akteur wat in Suidooster speel en Bulelani Mabutyana, regisseur van die Baxter-teater.
Die ses groepe in die Eden-distrik wat tot die eindronde deurgedring het, het die naweek van 14 tot 16 Januarie by die kultuursentrum in Oudtshoorn opleiding ontvang.
Die fasiliteerders was die twee beoordelaars, asook Kanya Viljoen - dramaskrywer en regisseur wat in Afgrond speel - en Mdu Kweyama, kurator van die Zabalaza-teaterfees. Die dramas is weer opgevoer en die fasiliteerders het vir elke groep terugvoer en raad om te verbeter gegee. Op die Sondag moes die groepe weer hul stukke opvoer om te wys hoe hulle verbeter het.
Van 21 tot 23 Januarie, het drie leerders, Monicke (regisseur), David (verhoogbestuur) en Aiden Kotze (klank en beligting) na die Baxter-teater gereis om opleiding in die teater te kry.
Die eindronde vind op 5 Maart in die George-kunsteteater plaas en die wenners word genooi om hul drama by die Baxter se Zabalaza-teaterfees op te voer.
Baie geluk aan ons talentvolle Kwagga-dramaleerders!
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'