GEORGE NUUS - Dit is kommerwekkend dat die kriminele element in die dorp al hoe jonger word, sê 'n sakeman van George. Dit na hy onlangs in Nelson Mandela-boulevard deur 'n minderjarige seun van sy selfoon beroof is.
Paul Gerber vertel hy was verlede Dinsdagoggend, 5 November rondom 08:30, in dié bedrywige pad waar hy vir 'n oomblik by die verkeerslig by die kruising van Nelson Mandela-boulevard en Binnestraat, moes wag. Hy het gou iets op sy selfoon gekyk en dit laat sak toe hy iemand uit die hoek van sy oog sien nader stap.
"Ek het nog die jongman gevra wat hy soek. En voor ek my kom kry, gryp hy die foon van my skoot af en hardloop weg." Gerber het soos blits uit sy bakkie gespring en die jongman agternagesit. Dat sy bakkie wat hy net so gelos het, gesteel kon word, was nie op daardie oomblik belangrik nie. Hy sê mans wat daar naby gesit het, het hom gehelp en die jongman gepootjie. "Dit is toe dat sy (die jong seun se) vriend 'n pistool uittrek en op my rig. Ek kon nie met sekerheid sê of dit 'n regte pistool was nie, en het toe teruggestaan."
Gerber sê hy het later uitgevind dit was 'n BB-pistool en dat die jongman wat dit op hom gerig het, onlangs uit die tronk vrygelaat is.
Hy sê as hy hom in die hande moes kry, sou hy hom 'n goeie pak slae gegee het. Hy kon sien dit is 'n jong kind wat hom beroof het. Blykbaar het die jong man al 'n paar mense daar beroof en elke keer word hy in sy ouers se toesig vrygelaat. Die jong misdadigers word nadat hulle aangekeer word, byna onmiddellik weer vrygelaat in die sorg van hulle ouers omdat hulle minderjarig is.
Na die voorval het Gerber by 'n nabygeleë vulstasie gestop waar 'n petroljoggie vir hom gesê het om na 'n foto van 'n jong seun, wat vermoedelik vir roof gesoek word en wat in die winkel opgeplak was, te gaan kyk. Dié jong seun het glo voorheen iemand anders ook beroof.
"Ek het hom onmiddellik op die foto herken. Ek het 'n aanvullende verklaring aflê om te help dat hy gearresteer word."
Luit. kol. Erica Diedericks, 'n kommunikasiebeampte by Conville-polisie, sê die buurtwag is besig met verskeie veiligheidsmaatreëls in die area. Sy sê onder leiding van ao. Mike Kritzinger word pamflette by die verkeersligte waar mense geteiken word uitgedeel. Daar word ook vergaderings met sake-eienaars gehou en daar is reeds aansoek gedoen vir geslotekringtelevisiekameras.
Dis nie maklik om die verskil tussen 'n BB-pistool en die ware Jakob uit te ken nie.
Die veiligheidswenke wat die polisie gee is dat motoriste meer bewus moet wees van wat rondom hulle aangaan. "Maak seker dat jou deure gesluit is en jou vensters toe is as jy by 'n verkeerslig stop of wanneer jy jou voertuig parkeer."
Kritzinger vra dat mense seker moet maak dat alle waardevolle items soos jou handsak of sonbril weggesit is of uit sig is. Mense wat voertuie met 'n vrag vervoer, moet seker maak dit is bedek of dat iemand agter sit. En laastens, moet nie op jou selfoon praat as jy loop of in jou voertuig sit nie, veral nie in Nelson Mandela-boulevard nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'