Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Hulle sou verkies dat tariewe soos byvoorbeeld elektrisiteit nie so erg styg nie, maar daar is geen ander keuse nie.
Dit was die boodskap van George-burgemeester, Leon van Wyk, en Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid vir finansies, enkele ure nadat die konsepbegroting Woensdag tydens ‘n raadsvergadering ter tafel gelê is.
Nadat die voorgestelde tariefverhogings bekend geword het, het dit behoorlik gegons en inwoners het beswaar gemaak.
Van Wyk en Wessels het benadruk dit is ‘n moeilike begroting. Hulle poog om tariefverhogings so laag as moontlik te hou. Daar is verskeie faktore wat in aanmerking geneem moes word soos onder meer die ekonomiese situasie, George se groei en die gepaardgaande druk van Covid-19.
Die konsepbegroting sal nou onderwerp word aan ‘n openbare deelname proses en mense sal insette kan lewer.
Met sy openingsrede Woensdag in die raad het Van Wyk gesê die opstel van die begroting was uiters moeilik, gegewe George se vereistes vir die opgradering, opknapping en voorsiening van addisionele infrastruktuur vir afvalwater en water tot die kapasiteitsvlakke om voorsiening te maak vir die groei wat die afgelope dekade ervaar is.
Van Wyk het Eskom se tariefverhogings van 17,8% vir die aankoop van grootmaat-elektrisiteit as kommerwekkend beskryf.
“Dit is meer as driedubbel die inflasieprojeksie. Die verhogings wat die afgelope dekade deur Eskom aangekondig is, het munisipaliteite se vermoë om koste-reflekterende tariewe vir hul eie basiese dienste te hef, gekelder. Die omvang van hierdie toename is baie kommerwekkend,” het hy gesê.
Kyk 'n video hieronder:
Die voorgestelde tariefverhoging vir elektrisiteit is 14,59%, vanaf 1 Julie 2021. Die res van die voorgestelde tariefverhogings lyk as volg:
- Munisipale belasting: 6%
- Water: 6%
- Riool: 6%
- Vullis: 4.5%
- Algemene tariewe: 2.0%
Tariewe en dienste
Van Wyk en Wessels het gesê hulle besef die verbruiker is onder druk, maar daar is sekere realiteite. Die munisipaliteit moet volhoubare dienste lewer. As elektrisiteitstariewe met net 1% gesny word is daar R8,1-mijoen minder beskikbaar.
Dit beteken dat as tariewe gesny word is dit ten koste van ander afdelings en dienste.
Wessels het gesê die elektrisiteitstariewe is nie in hul hande nie. Die munisipaliteit is nie immuun teen die situasie by Eskom nie. “Ons gee nie om vir kritiek, maar mense moet versigtig wees om goedkoop politiekery te maak oor tariewe. Ons tree in die beste belang van inwoners op.”
Volgens hom word geld nou bestee om George reg te kry sodat hy die beste sekondêre stad in die lank kan wees. Alle voorgestelde tariewe binne die munisipale mandaat is 6% en minder. “Dit bewys ons simpatie en empatie oor die ekonomiese situasie daarbuite.”
Belang van infrastruktuur
Die kapitaalbegroting en die bedryfsbegroting vorm die algehele begroting. Die kapitaalbegroting beloop sowat R368 miljoen. Daarvan gaan 90% na siviel en tegnies en elektrotegnies. Dit onderstreep die belangrikheid van infrastruktuur. Nie net moet infrastruktuur uitgebrei word nie. Dit moet ook in stand gehou word.
Volgens Van Wyk en Wessels moet onthou word dat George die vinnig groeiendste sekondêre stad in die land is. Die planne wat nou gemaak word is om gereed te wees vir later. Die plan is om George so te posisioneer dat hy gerat is vir die verwagte ekonomiese groei.
Beide het benadruk dat die munisipaliteit by ‘n punt gekom waar hy moet besluit wat is “belangriker”. Met ander woorde sekere projekte is belangriker as ander.
Mayor Leon van Wyk’s speech on the draft budget
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'