TUINROETE NUUS - Wanneer 'n mens by 'n lekker bord kos aansit of vars groente gerieflik van die winkelrak af in jou mandjie pak, gee jy nie juis 'n gedagte aan die werk van die agriwerkers wat agter daardie produk lê nie.
Dis om hierdie mense in die kollig te plaas en aan hulle erkenning te gee dat die Agriwerker van die jaar-kompetisie aangebied word. Verlede jaar kon dit weens Covid-19-inperkings nie plaasvind nie, maar vanjaar gaan die kompetisie voort.
Boere word genooi om hul werkers nou reeds in te skryf vir een van die 12 verskillende kategorieë: algemene werker, trekkerdrywer, administratiewe personeel, diereproduksie, tegniese operateur, besproeiingspesialis, sosiale ontwikkeling, landbouverwerking, voorman, voorvrou, junior bestuur en middelbestuur.
Daar is ook 'n kategorie vir beste plaas.
Christo Fourie, streekkoördineerder en visepresident van die George-landbouskou, sê die plaaslike beoordelaars besoek die kandidate en voer onderhoude op die plase waar hulle werk.
"Vanjaar het ons die Klein-Karoo by ons Tuinroete-distrik bygekry. Uit al die inskrywings word 75 gekies wat in September sertifikate van erkenning ontvang tydens 'n spesiale dinee. Drie wenners uit elke kategorie word daar aangekondig wat na Stellenbosch gaan. Hulle spandeer vier dae daar om opleiding in hulle veld te kry en ook vir verdere evaluasie deur die departement van landbou, wat die provinsiale wenners aanwys."
Fourie sê die werkers keer gewoonlik baie geïnspireerd terug van daardie ervaring.
'n Tuinroete-inwoner, Isaac Ntoto, was in 2018 die algehele wenner van die kompetisie en Lloyd Mungadze van Haygrove Eden, Geelhoutboom, is in 2019 aangewys as die wenner in die junior bestuur-kategorie.
Boere of werkers wat belangstel om in te skryf, kan die volgende persone kontak:
• Christo Fourie 044 873 4165 / 079 285 0337 / visepresident@georgelandbouskou.co.za
• Evon Mayekiso 044 803 3753 / 074 613 5892 / evonm@elsenburg.com
Die Wes-Kaapse departement van landbou is die hoofborg en vanjaar borg Click on It en Arena Pump 'n voertuig en brandstof vir die beoordelaars, Christo Fourie, Corné Botha (skoupresident), en Evon Mayekiso en Ben Solomon, albei van die departement.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'