GEORGE NUUS - As jy wil sien hoe lyk die Wêreldrugbybeker, moet jy Sondag 14 April in George wees. Die beker waarvoor die Springbokke in verlede jaar se eindstryd so hard moes sweet, sal by twee plekke in George te siene wees.
Boonop kom die Springbok, Manie Libbok, wat sterk bande met George het, saam met die beker. Nog 'n Springbok, Marco van Staden, kom ook hierheen.
Die beker sal van 12:00 tot 13:30 by die Garden Route Mall te sien wees en 'n rukkie later by Outeniquapark waar die SWD Arende en die Boland Kavaliers in 'n SA Bekerwedstryd kragte meet.
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby, het vanoggend, 11 April, aan George Herald bevestig dat die beker hierheen kom. "Dis 'n groot geleentheid en eer vir ons dat die beker hierheen kom."
Hy het mense genooi om die twee geleenthede by te woon.
Volgens hom het SWD-rugby reeds einde verlede jaar voelers na SA Rugby uitgesteek oor die moontlikheid om die beker op 'n geleë tyd hierheen te bring.
Luidens 'n verklaring van SA Rugby word ondersteuners aangemoedig om die Garden Route Mall te besoek en so die mees gesogte trofee in rugby te sien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’