GEORGE NUUS - 'n Kerk, wat omring word deur sy gemeentelede, loop geweldig deur onder vandalisme.
Die kerkleiers sê die feit dat die United Congregational Church binne die gemeenskap wat dit bedien geleë is, maak dit baie hartseer. Dit blyk of niemand omgee wat met die kerk gebeur nie.
Pastoor Donald Sweetland sê dit raak al hoe meer 'n hopelose saak omdat die sake wat by die polisie aangemeld word, nie opgevolg word nie.
Koos Britz, die kerksekretaris, sê een van die groot dinge wat opsigtelik beskadig is, is die buitemuur om die kerk.
"Eers was hier 'n draad wat stuk-stuk en toe heeltemal gesteel is. Toe bou ons die muur, toe breek mense dit ook af en steel die blokke."
Die kerk gaan tans gebuk onder vandale en die kerkraad vra die gemeenskap om te help.
Hy en ander seniorlede wil ook weet hoekom die kerk oorkant die pad, nie ook so beskadig word nie, en of hulle kerk die teiken van vandale geword het. Sweetland sê daar is al kragkabels, vensterrame, deurkosyne, vloerborde en 'n hele balkon uit die nuwe gebou op die perseel waar die pastorie sou wees, gesteel.
"Maar ons kan dit nie klaar gebou kry nie, want toe ons agterkom die goed word gesteel moes ons self van dit verwyder."
Hy vertel in die verlede het hulle aansoek gedoen by verskillende besighede en banke vir borgskap, en moes ander planne maak want niemand wil aan 'n kerk skenk nie. Glo nie eens met die belofte dat hul naam op 'n T-hemp gebruik sal word nie. En met Covid, sê Sweetland, moes hulle hul groot fondsinsamelingsfees kanselleer.
Hy en die kerkraad wil nou 'n ernstige pleidooi aan die gemeenskap rig om 'hul' kerk te help oppas. Hulle het belowe dat indien iemand iets gewaar en dit aanmeld dit anoniem gedoen kan word, maar dat dit asseblief aangemeld moet word.
Sweetland sê hy is bedags beskikbaar by die kerkkantoor en dat alle dienste soos berading en so meer tans beskikbaar is aan die gemeenskap. "Ons mag nog net nie kerk hou nie, maar al die ander dienste gaan voort, met Covid-19-regulasies wat toegepas word."
Kontak Sweetland tussen 09:00 en 12:00 by die kerk by 082 5011 149 vir enige navrae.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'