Gallery
TUINROETE NUUS - Die pragtigste vroetel-voorskote én -moue is onlangs geskep deur inwoners van die Tuinroete vir 'n kompetisie ten bate van ADASA vir persone, wat met Alzheimer se siekte of aan demensie ly.
Dié kompetisie, wat gereël is deur die Sonja Smith Begrafnis Groep, is op 30 April afgesluit en twee prysuitdelings is verlede maand op 15 Mei in George en 17 Mei op Mosselbaai gehou.
Foto's van prysuitgewing op George:
https://shorturl.at/eWWtA
Prysuitgewing op Mosselbaai:
https://shorturl.at/Lz3yp
Sonja het gesê: "Ons het ‘n totaal van 122 van die mooiste en kreatiefste voorskote, moue en kussings ontvang uit die Mosselbaai- en George-omgewings.
"Elke item was met soveel sorg en liefde gemaak, en ons het besluit om twee prysuitdelings te hou."
Modeparade
Elkeen wat die prysuitdelings bygewoon het, het dit terdeë geniet.
Die 10 finaliste het met n modeparade hul skeppings vertoon en die gaste het per stembriefie in die gees van die groot nasionale verkiesing, wat om die draai was, gestem vir hulle drie gunstelingitems.
Die twee tweede- en derdeplek-wenners het elkeen ‘n geskenkpak van CAWfee, 'n winkel in Bos en Dal, George, ontvang terwyl die twee algehele wenners elkeen ‘n geskenkbewys vir ‘n weeklange wegbreek na die pragtige kusdorpie en populêre vakansiebestemming, Witsand, ontvang het.
Oorhandig
Die meerderheid van die geskenkte items, is aan Hettie Theron, senior sosiale werker van ADASA, oorhandig om te versprei aan instansies waar dit benodig word.
Sonja het gesê: "Ons wil graag die gemeenskap bedank vir hulle oop harte en al hul bydraes. Dit sluit in donasies van materiaal, ritssluiters, knope, linte, en meer, tot die pragtige items wat gemaak is.
"Dit was vir Sonja Smith Begrafnis Groep ‘n voorreg om betrokke te wees by nóg ‘n gemeenskapsprojek."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’