GEORGE NUUS - Inwoners van die informele nedersetting by Rosedale, het vandag (Saterdag 23 Oktober) huise in die gebied beset.
Blykbaar is die huise half-klaar.
Die polisie en ‘n privaat sekuriteitsmaatskappy was op die toneel. Teen laatmiddag was alles onder beheer.
Kerneels Kaptol, voorsitter van die Deo Gloria-buurtwag, het gesê die inwoners is ontevrede met die proses waarvolgens huise uitgedeel word. Hulle is glo ongelukkig omdat beloftes wat aan hulle gemaak is nie gerealiseer het nie.
Pastoor Frans Joseph, ‘n geestelike en gemeenskapsleier, het gesê die mense is ongelukkig oor hoe die waglys bestuur word. Daar is na bewering korrupsie en dit moet dadelik ondersoek word deur ‘n onafhanklike instansie soos die Openbare Beskermer. Volgens hom, kom die aangeleentheid al ‘n lang pad.
Tertuis Simmers, Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, het aan die George Herald gesê hy is bewus van die mense wat die huise beset het. Volgens hom is dit deur ‘n bepaalde politieke party in opposisie geledere aangemoedig.
Die okkupasiesertifikate vir die huise is nog nie deur die George-munisipaliteit afgeteken nie. Die huise is reeds geoormerk vir begunstigdes.
Hy moedig die George-munisipaliteit aan om binne die raamwerk van die wet die onwettige besetters te verwyder.
Simmers het mense gevra wat bewus is van beweerde korrupsie om ‘n saak by die polisie te gaan maak. “Hulle moet dan my department van die inligting voorsien.”
Hy het gesê daar is mense wat kwalifiseer vir behuising en dis ‘n baie deursigtige proses wat alle inligting verifieer.
Hy het ‘n beroep op mense gedoen om nie ‘n politieke speelbal van behuising te maak nie. "Dit kan nadelige implikasies hê vir kwalifisereende begunstigdes."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'