GEORGE NUUS - Mingo en Sally Booysen se familie kan vanjaar ongelukkig weens die inperking nie hul tradisie van samekoms oor Paasnaweek geniet nie, maar in hul onderskeie huise gaan hulle by die tradisie hou om op Goeie Vrydag lekker kerrievis en paasbolletjies te maak.
Een van hul dogters, Monique Booysen, wat by haar ouers woon, sê: "Gewoonlik kom my twee ouer susters Rosemoor toe vir oorbly. Hiervandaan gaan ons as familie saam kerk toe en daarna begin die lekker kerrievisvoorbereiding. Hierdie jaar bly almal tuis en ons elkeen moet maar Paasfees in die huis voor die TV en radio deurbring.
"Dit gaan so anders wees as waaraan ons gewoond is, maar ons is dankbaar dat ons nie heeltemal alleen is nie."
Die Booysen-egpaar is bly om darem vir Monique en hul jongste dogter, Chesma, by die huis te hê terwyl die ander twee dogters, Shahida Carolus en Yolandé van Heerden, saam met hul eie huisgesinne Paasnaweek vier.
Pa Mingo en Ma Sally Booysen het darem twee van hul dogters by hulle in die huis met Paasnaweek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'