GEORGE NUUS - 'n Motorfietsherdenkingsrit ter ere van Iando Minnie (44) wat Vrydag 7 Mei naby die Maalgatebrug op die N2 buite George in sy Toyota Land Cruiser verongeluk het, vind op Sondag 16 Mei plaas.
Minnie was 'n kranige motorfietsryer wat graag op sy ysterperd saam met vriende weggebreek het.
Sy talle motorfietsvriende vertrek om 07:30 van Checkers Yorkstraat na Glentana. Mense wat wil deelneem, kan om 07:00 aanmeld by Checkers.
Minnie was op pad van George na Glentana waar hy woon, toe die ongeluk gebeur het.
Voorlopige inligting dui daarop dat Minnie beheer oor sy voertuig verloor het toe dit teen die kant van die pad teen 'n rotswand gebots het. Die voertuig het gerol en op die padoppervlak op sy dak tot stilstand gekom. Minnie het op die toneel aan sy wonde beswyk.
Minnie was saam met sy pa, Koos, mede-eienaar van die bekende Carlu Trekkers-onderneming in Blanco.
Sy suster, Larein Pienaar, het gesê haar broer was wyd bekend in die boeregemeenskap. Hy was onder meer verantwoordelik vir die implement- en trekkerverkope.
"Hy was gewild en geliefd en het 'n vreeslike wye vriendekring gehad."
Volgens 'n familievriend, Jannie Meyer, het Minnie ontpop as 'n suksesvolle sakeman. "Hy was 'n ekstrovert, geweldig gasvry en vrygewig. Hy was voorwaar 'n omgeemens."
Minnie was voorsitter van die Glentana-buurtwag en 'n komiteelid van die Gleniqua-belastingbetalersvereniging.
Anton Dellemijn, 'n Mosselbaai-raadslid wat met hom bevriend was, het gesê sy dood laat 'n groot leemte.
"Hy het 'n ongelooflike bydrae gelewer en 'n daadwerklike verskil in die gemeenskap gemaak. Hy was gedissiplineerd en passievol in alles wat hy aangepak het en in sy diens aan sy medemens. Niks was ooit vir hom te veel nie. Dis 'n groot slag. Ons harte is seer."
Polisiewoordvoerder Malcolm Pojie sê 'n nadoodse ondersoek sal gedurende die week gedoen word om die presiese oorsaak van dood te bepaal. "Daar was klaarblyklik geen ander persone of voertuie by die ongeluk betrokke nie," het Pojie gesê.
Minnie laat sy ouers, Koos en Li, sy vrou, Anica, dogter Milè (8) en seun Kodi (13) agter.
Begrafnisreëlings was teen saktyd nog nie gefinaliseer nie.
Blomme en 'n kruis met Iando Minnie se naam op is die naweek aangebring by die ongelukstoneel op die N2 'n entjie voor die Maalgatebrug. Foto: Alida de Beer
Seuntjie deur taxi doodgery
Die polisie in Conville ondersoek 'n saak van strafbare manslag ná 'n 7-jarige seuntjie op Dinsdag 11 Mei deur 'n taxi getref is.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, sê die voorval het omstreeks 17:40 in Scorpiostraat, Parkdene plaasgevind. "Die kind, Queline Fielies, is glo deur 'n taxi getref en op die toneel dood verklaar. Die presiese omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek," sê hy.
Enige getuies word versoek om dringend met die Conville-speurtak by 044 803 3302, of Stop Misdaad by 08600 10111 kontak te maak. Geen foto's kon teen saktyd bekom word nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'