GEORGE NUUS - Huis JJ Watson is alombekend vir sy jaarlikse saamkuieroggend.
Vanjaar word die geleentheid op Saterdag 4 November vanaf 09:00 in al twee die perseel se tuine asook eet- en sitkamer aangebied.
Die tehuis gebruik reeds vanaf April vanjaar die tuin aan die oostekant as teetuin en daar is 'n skeepshouer wat in 'n volwaardige winkel omskep is.
In die winkel word baie goeie witolifante en klere te koop aangebied.
Die hele tuin word benut en 'n feestelike atmosfeer word geskep.
Vanjaar gaan daar ook vir die kinders 'n springkasteel en poppekas aangebied word.
In die tuin aan die weste, naaste aan die NG Kerk George-Suid, gaan 'n boereorkes musiek verskaf terwyl 'n varkie op die spit gebraai word.
Braaihoender, worsrolletjies, 'n groot ontbyt, pannekoek, basaarpoeding, tuisgebak, vrugteslaai, vars groente en heerlike kerrie-en-rys asook kerrievis is op vanjaar se spyskaart.
Daar is verder 'n spesiale tafel met goeie boeke en CD's met musiek na elkeen se smaak.
Om nog meer kleur aan die verkoping te gee gaan elke verkoopster vanjaar 'n eie unieke voorskoot dra.
Hierdie is 'n geselligheid wat nie misgeloop mag word nie.
Die geld wat ingesamel word, sal gebruik word vir die opgradering van die tehuis se badkamers.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'