Video
SUID-KAAP NUUS EN VIDEO - Die nuwe reëls in amateurrugby, wat onder meer bepaal dat duikslae voortaan onder die borsbeen gedoen moet word, sal beslis help om spelerveiligheid te bevorder. Dit is die boodskap van Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby.
Hy het Dinsdag 6 Februarie by navraag kommentaar gelewer oor die nuwe reëls wat die tonge los het.
Brinkhuis het gesê Saru het dit as reël aanvaar. "Aan die begin sal dit 'n uitdaging wees, maar mens sal dit moet toepas. Skeidsregters het reeds in Gqeberha 'n interimsessie oor die aangeleentheid gehad. Die plan is dat ons dit in die streke met die administrateurs en spelers sal bespreek."
Volgens Brinkhuis is skeidsregters in die SWD in die proses om opleiding oor die aangeleentheid en die toepassing daarvan te ondergaan.
Bevin Fortuin, oud-Springbok en afrigter van Blanco, het gesê dit gaan 'n moeilike aanpassing wees.
"Wêreldrugby wil die spel skoon en veilig hou. Afrigters sal dit moet begin doen óp die veld waar afrigting plaasvind. Dis waar alles begin.
"Dis 'n goeie leerskool vir laerskoolspelers om te leer waar om te duik en waar om nie te duik nie. Vir die kinders gaan dit makliker wees.
"Ek glo dit behoort nie te moeilik te wees vir provinsiale spelers om toe te pas nie. Dit gaan 'n rukkie neem."
"My vraag is, wat gaan 'n skeidsregter doen as 'n speler met die bal in 'n sekere posisie, nie op 'n ander plek as op die borsbeen geduik kan word nie."
Hy is bewus van werksessies wat SWD oor die aangeleentheid gaan hou en hy het dit verwelkom.
Foto: www.sarugby.co.za
Colin Hoffman berig dat Johan Lerm, afrigter van Groot-Brakrivier gesê het dat die nuwe reëls alles te doen het met spelerveiligheid.
Afrigters moet daarby aanpas en die spelers die regte basiese vaardighede leer om dit reg te doen. Daar is geen kortpaaie nie en dit is weer bewys ná 'n speler die afgelope naweek sy nek gebreek het in 'n vriendskaplike wedstryd tussen Hamiltons en Worcester in die Boland.
"Daar is net te veel op die spel as die regte prosedure nie gevolg word nie. Nie net op die verdediging nie, maar ook in die skrums," het Lerm gesê.
Dié verdedigingsreël is reeds verlede jaar voor die Springbokke se algehele vierde én tweede agtereenvolgende oorwinning van die Webb Ellis-trofee in Frankryk gewysig en aanvaar. Dit was egter nie op senior geldspelers van toepassing nie, maar dit is waar Rassie en die voormalige Bokafrigter, Jacques Nienaber, 'n totaal nuwe rigting ingeslaan het.
Hulle het in hul voorbereiding vir die WB-toernooi volgens dié reëls die nodige aanpassings gedoen en volgens Lerm het Rassie Erasmus en Jacques Nienaber skitterend daarin geslaag om met die nodige veranderings veral strafskoppe te beperk in drukkoker-situasies gedurende die toernooi.
VIDEO - Nuwe rugbyreëls oor hoogvat op klub- en skolevlak in die kollig:
Wat sê die nuwe reëls
Die belangrikste verandering is dat duikslae in algemene spel aan die onderkant van die sternum (borsbeen) of laer gemaak moet word.
Dubbelduikslae en tweede duikslaners word in algemene spel toegelaat, maar moet aan die onderkant van die borsbeen of laer gemaak word.
Tydens algemene spel mag 'n speler die bal in kontak dra in 'n vorentoe gebuigde liggaamsposisie, maar moet kop en skouers bokant die heupe hê, en moet die veilige sone tussen die borsbeen en middel van die bobeen toeganklik maak vir die duikslag.
Tydens algemene spel mag die speler nie die bal kop eerste in kontak dra met die lyf heeltemal gebuig en horisontaal, of met kop laer as die heupe nie.
'n Speler wat die bal oppik en dryf mag nie 'n hand voor kontak op die grond plaas om hulself vorentoe te dryf nie.
'n Speler mag eers bind aan iemand wat oppik en dryf nadat daar met 'n verdediger kontak gemaak is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’