Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Voorsmakie van Hoërskool Outeniqua se 100-jarige feesvieringe aanstaande jaar, is verlede Donderdag, 15 September, gekry.
Tydens 'n luisterryke geleentheid is die hoeksteenlegging presies 100 jaar gelede op 15 September gevier.
Kwaggas, soos die skool ook bekendstaan, is een van die bekendste skole in Suid-Afrika.
Donderdag se geleentheid is in die suidwestelike hoek van die skool gehou waar die hoeksteen destyds gelê is.
Benewens die leerlinge en onderwysers, het oudonder-wysers en ook oudleerlinge die geleentheid bygewoon.
Die geleent-heid het begin met 'n rit deur eregaste tot by die hoeksteen. Leerders het ager die voertuie gedraf en met fietse gery, terwyl ander leerders 'n erewag gevorm het.
Chris Hattingh, onderhoof akademie, het onder meer 'n oorsig van die skool se geskiedenis gegee.
Die Nico le Roux-gedenktuin is ook onthul. Le Roux het jare gelede die skool se skoollied geskryf. Sy seun, ook Nico, was self teenwoordig.
Twee bekende oudleerlinge, Hannelie Steyn en Anton Meyer, was betrokke by die onthulling van 'n gedenkfakkel in die tuin. Meyer het die gedenkfakkel ontwerp. Die geleentheid is heel gepas afgesluit met die sing van die skoollied.
Hattingh het Maandag gesê die fakkel is in die vorm van die George-lelie. Van bo gesien is daar ses seile. Dit dui daarop dat die skool ingebed is in die gemeenskap en die gemeenskap is deel van die skool.
Daar is 'n lig binne die fakkel wat met elektrisiteit werk. Dit is aangeskakel en is meer sigbaar in die nag.
Die fakkel sluit aan by die idee dat die kinders ligdraers is. Die skool is ook 'n bron van lig. God is die enigste Ligbron. Hy is ook die hoeksteen van die lewe. Net soos 'n gebou 'n hoeksteen het.
VIDEO: Kwaggas hoeksteenlegging 100 jaar later
Volgens Hattingh skop die feesvieringe amptelik af op 11 Januarie 2023 met die Outeniqua 100-krieketweek.
Daarna sal verskeie aktiwiteite volg en sowat 50 geleenthede word beplan. Die personeel, leerlinge en oudleerlinge word daarby betrek.
Dit bereik 'n hoogtepunt op 21 Julie. 'n Historiese optog gaan deur die strate van Georg plaasvind.
Op 28 Julie is daar 'n galadinee en op 30 Julie is daar 'n kerkdiens in die NG Moedergemeente.
Flip de Swardt, oudleerling en 'n voormalige onderhoof van die skool, plaas 'n simboliese fakkel.
Van die mense wat die geleentheid bygewoon het. Christo Vorster, (links) hoof van die skool, Nico le Roux, oudskoolhoof se seun, Bassie le Roux, sy eggenoot, Rica le Roux (kleindogter van tweede skoolhoof) en Chris Hattingh, onderhoof akademies.
Leerlinge wat die erewag gevorm het.
Leerlinge wat deelgeneem het aan die ererit. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'