GEORGE NUUS - Die Hervormde Gemeente Outeniqua het in September ’n besondere mylpaal gevier toe die gemeente sy stigting 50 jaar gelede herdenk het by die gemeente se kerkgebou in Derdestraat.
Die gemeente is op 26 September 1976 gestig en het sedert sy beskeie begin gegroei tot een van die grootste gemeentes in die Hervormde Kerk.
Tydens die herdenkingsdiens het die gemeente se predikante elk ’n gedeelte van die erediens waargeneem. Musiek onder leiding van Annalie Praekelt, saam met ’n ensemble van viool, trompet en fluit, het deel van die verrigtinge gevorm.
Ds. Pierre Jacobs se prediking uit Hebreërs 11 het gefokus op die geloofsgetuies wat die huidige geslag voorafgegaan het en die roeping van die gemeente om met die oog op Jesus gerig die toekoms tegemoet te gaan.
Slegs vier jaar ná sy stigting het die gemeente in 1980 sy kerkgebou in gebruik geneem. Namate die gemeente gegroei het, is verskeie bouprojekte onder leiding van ds. Ferdie Nortje aangepak om die fasiliteite uit te brei.
Die liturgiese ruimte is vanjaar ook herontwerp en opgegradeer. Dit sluit die installering van ’n historiese kansel uit die 19de eeu in wat deur die jare in verskillende gemeentes van die Hervormde Kerk gebruik is.
Die kansel en ’n monument by die ingang van die kerkgebou dien nou as herinnering aan die gemeente se geskiedenis en die mense wat oor vyf dekades tot sy ontwikkeling bygedra het.
Die gemeente beskryf sy geskiedenis as een van ’n klein begin, volhardende geloof en groei.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’