RUGBY NUUS - Die Suidwestelike Distrikte (SWD) se ryk rugbyerfenis sal op 17 Oktober gevier word wanneer die SWD Saru Legends hul eerste Legends-erkenningseremonie in die George-banketsaal aanbied.
Volgens Pieter Säfers van die SWD Saru Legends is die geleentheid daarop gemik om erkenning te verleen aan rugbylegendes wat deur hul besondere bydraes, toewyding en jare lange betrokkenheid ’n blywende invloed op rugby in die SWD-streek en omliggende gemeenskappe gehad het.
“Die inisiatief is beplan as die eerste van ’n jaarlikse erkenningsprogram waarmee die organisasie die prestasies, opofferings en nalatenskap van voormalige spelers, afrigters, administrateurs en ander rolspelers in die rugbygemeenskap wil vereer en bewaar.”
Säfers sê ’n belangrike ondersteuner van die eerste geleentheid is burgemeester Browen Johnson, wat in sy persoonlike hoedanigheid hom tot ’n finansiële bydrae van R30 000 verbind het. Die George-munisipaliteit stel die George-banketsaal ook kosteloos vir die geleentheid beskikbaar.
Volgens Säfers is die ondersteuning ’n belangrike bydrae tot die verwesenliking van die organisasie se visie om die streek se rugbygeskiedenis op ’n waardige en volhoubare wyse te bewaar.
Bewaring van rugbyerfenis
Die Legends-erkenningseremonie is die vlagskipinisiatief in die SWD Saru Legends se sakeplan en vorm deel van die organisasie se breër doel om die nalatenskap van rugbyrolspelers vir toekomstige geslagte te bewaar.
“Om die nalatenskap van rugbylegendes te eer, te bewaar en te vier deur hul lewenslange bydraes te erken, terwyl huidige en toekomstige geslagte geïnspireer word om die waardes en gees van die spel hoog te hou, is die organisasie se missie,” sê Säfers.
Die organisasie wil daarmee verseker dat die bydraes van mense wat oor baie jare tot die ontwikkeling van rugby bygedra het, nie met verloop van tyd verlore gaan nie.
Die geleentheid word deur Legends-lid Allistair Brinkhuis as projekbestuurder gekoördineer.
Die SWD Saru Legends het ook hul waardering teenoor die SWD-rugbyunie uitgespreek vir sy toestemming om die unie se amptelike handelsmerk en agtergronde tydens die geleentheid te gebruik.
Volgens Säfers versterk dié samewerking die verbintenis tussen die SWD Saru Legends en die streek se rugbystruktuur, en dra dit by tot die waardigheid en professionele aanbieding van die geleentheid.
“Legendes word nie slegs onthou vir wat hulle op die rugbyveld bereik nie, maar ook vir die nalatenskap wat hulle agterlaat en die geslagte wat hulle daardeur inspireer.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’